Die leerder wat die meeste onderskeidings ingepalm het is Chanté Scheepers, van Hoërskool Die Anker, wat sewe onderskeidings losgeskryf het.
Chanté het aan die Herald gesê dat dat sy reg deur die jaar hard gewerk het.
“Ek het elke jaar, sedert graad agt, aan die skool se revue deelgeneem, maar verlede jaar moes ek die aaklige besluit neem om dit liewer nie te doen nie; dit het my meer tyd gegee om voor te berei vir die eksamen en dit het vrugte afgewerp,” het sy gesê.
Die inwoner van Minnebron het gesê dat sy nou deeltyds toerismebestuur gaan studeer.
“Ek gaan ook deeltyds werk, maar my uiteindelike droom is om ‘n geleentheidskoördineerder te word,” het sy vertel.
“Natuurlik streef ek ook daarna om my eie besigheid op die been te bring.”
Die vakke waarin sy haar onderskeidings behaal het is: Afrikaans, Engels, wiskunde geletterdheid, lewensoriëntering, besigheidstudies, gasvrydheidstudies en toerisme.
Die Anker se ander toppresteerders was:
Peter Prince wat vyf onderskeidings behaal het, Luzandri Bierman, Rhynhard Goosen en Zandalee Solomon wat elk vier behaal het, asook Albertus Morgenrood, Janco Hurter, Elise Duncan en Nadia Schlotfeldt, wat elk drie onderskeidings agter hul naam kan skryf.
Die skool het ‘n slaagsyfer van 97 persent behaal.
Die hoof van die skool, George Nell, het die matrikulante van 2013 geluk gewens met die uitslae en die hoop uitgespreek dat hulle sukses in die lewe sal bereik.
Die Hoërskool Stoffberg se toppresteerders was Chanté Erasmus en Regardt van Niekerk, wat elke ses onderskeidings behaal het.
Lizanne Bester het vier onderskeidings losgeskryf, terwyl Suhandri Snyman en Liezel van der Sandt elk drie onderskeidings behaal het.
Vier leerders het elke twee behaal en 17 leerders het elk een onderskeiding gekry.
Die Hoërskool Stoffberg het ook vir die vyfde jaar agtereenvolgens ‘n 100 persent slaagsyfer behaal.










