Vullisblikke sonder wiele frusteer inwoners
Talle inwoners van Dalpark, wat Maandag hul nuwe vullisdromme moes gaan afhaal, het rooi onder die kraag geword.

Gemoedere het hoog geloop, omdat inwoners vir ure moes wag om hul vullisblikke in ontvangs te neem.
Die rede hiervoor was dat honderde blikke wel gereed was vir verspreiding, maar dat die wiele ontbreek het.
‘n Paar gelukkige inwoners, wat eerste opgedaag het, het wel blikke met wiele gekry, maar dié wat bietjie later opgedaag het moes doodeenvoudig hoor dat hulle moes wag, aangesien daar nie wiele was om aan die vullisblikke te heg nie.
“Ons is meegedeel dat iemand wel oppad was met die wieletjies, maar ons het langer as ‘n uur en ‘n half gewag,“ het ‘n ontstoke inwoner, wat gevra het om annoniem te bly, gesê.
‘n Groep geduldige mense het op die sypaadjie onder bome skuiling gesoek teen die warm son, en gewag dat die wiele opdaag.
“Ek wag maar liewer, want ek wil nie die geleentheid verbeur om ‘n vullisblik te kry nie,” het een van die inwoners gesê.
Ander was minder ingenome en het op ‘n verduideliking aangedring.
Die drie persone wat die verspreiding behartig het, het bloot gesê dat die wiele oppad was.
Wat verder ontstel het is die feit dat die inwoners van Dalpark blykaar nie deeglik ingelig is oor die feit dat vullisblikke Maandag en Dinsdag uitgedeel sou word nie.
“Sommige van ons het kennisgewings in ons posbusse ontvang, maar ek weet van baie mense wat glad nie bewus was daarvan dat hulle die vullisblikke moes gaan haal het nie,” het Lena Brits gesê.
“Dit is ook moeilik vir mense wat klein voertuie het, of glad nie vervoer het nie; ek voel dat Ekurhuleni maar by elke huishouding ‘n vullisblik kon aflewer, ons betaal in elk geval genoeg vir dienste.”
Die Herald het die Ekurheleni Metro vir kommentaar genader en sodra dit ontvang word sal dit gepubliseer word.



