AGS Kerk, Betesda vier 100 jaar
Die AGS Kerk, Betesda-gemeente vier vanjaar sy 100ste bestaansjaar.
Die kerk het in 1911 sy ontstaan gehad, toe Matthys Meijburg, van Daspoort, Pretoria, ‘n groepie mense in Brakpan en die omgewing begin bedien het, nadat hy verneem het dat die mense geïnteresseerd was in die dienste wat John G Lake alreeds vanaf 1908 in Johannesburg gehou het.
Een van dié persone was J C Jansen van Rensburg, wat in 1913 deur die AGS van SA se uitvoerende bestuur as voltydse evangelis, in Brakpan, aangestel is.
Op 4 November, 1913, is daar, tydens ‘n vergadering van die uitvoerende raad, besluit om amptelik ‘n gemeente in Brakpan te stig.
Broer J C Jansen van Rensburg is aangesê om ‘n vergadering vir die stigting van die kerk te belê, waarna die stigtingsvergadering op 11 November, 1913, plaasgevind het.
Onder Jansen van Rensburg se leiding en bediening was daar ‘n groepie mense wat fondse ingesamel het, ten spyte van ‘n heersende Eerste Wêreldoorlog en ‘n gepaardgaande rebellie in Suid-Afrika oor deelname aan die oorlog.
Geld was skaars en van die vrouens in die gemeente het selfs van hul juweliersware, soos trouringe, as deel van die befondsing vir die bouwerk geskenk.
Brakpan het in 1914 ‘n volwaardige gemeente geword, nog voordat die dorp amptelik ’n dorp geword het. Die gemeente is offisieel op 29 Januarie, 1914, gestig.
Eiendom is gekoop en Brakpan se eerste kerkgebou is gedurende 1915, by Gladstonesstraat 15, in gebruik geneem.
In 1915 het Brakpan nie net sy eerste kerkgebou, die Gladstone kerk, gekry nie, maar het ook die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog beleef, wat tot en met 1918 sou duur.
Die lidmaatgetalle het toegeneem, en nadat pastoor J G Henning dienste in Brakpan, gedurende 1916 waargeneem het, is hy as die eerste pastoor van die gemeente beroep.
Hy het vanaf 23 Junie, 1916, die gemeente bedien en, op 16 Julie, 1918, is daar bevestig dat die oordrag van die titelakte vir die Brakpan gebou aan die AGS van SA, Brakpan, oorhandig is.
Pastoor Henning het uiteindelik die gemeente vir 28 jaar bedien. Hy het sterk daarop gefokus om persone vanuit die gemeente te bemagtig om Sondae regoor die Oos-Rand dienste te hou.
As gevolg van die vinnige groei van lidmaatgetalle het die Brakpan AGS in 1932, te Queenslaan 62, ‘n nuwe en ‘n groter kerksaal gebou.
Dié kerksaal kon ongeveer 400 mense huisves en is op19 Oktober, 1932, om 4nm, toegewei en geopen.
Gedurende Maart, 1954, het pastoor Botha begin om die kerk te bou en die bouwerk is binne 10 maande voltooi.
Die nuwe kerkgebou, wat sekerlik een van die indrukwekkendste en grootste kerke in Brakpan is, het sitplek vir ongeveer 800 persone.
Die hoeksteen van die nuwe kerk is op 2 Oktober, 1954, deur pastoor G L Vermeulen gelê, terwyl die amptelike inwyding van die nuwe en huidige kerkgebou op 29 Januarie, 1955, deur senator G R Wessels plaasgevind het.
Op 1 Augustus, 2010, het dr Johan en Elna van Rensburg hul bedieningstermyn by die Betesda-gemeente begin.
Hulle is slegs die 14de presiderende herderspaar van die gemeente in 100 jaar.



