Inwoners is woedend oor kragonderbrekings
Inwoners van die dorp het die afgelope paar dae ‘n oorvloed van kragonderbrekings reg oor die dorp beleef, en die gepaardgaande en deurdringende reën het beslis nie gehelp om gemoedere kalm te hou nie.
Die Herald het sedert verlede week ‘n magdom telefoniese navrae en klagtes van bekommerde inwoners ontvang, wat wou weet wanneer die kragtoevoer na hul woonbuurte afgeskakel of herstel gaan word.
Om dinge te vererger, het ‘n vlaag van paniek verlede Donderdag ontstaan toe landswye beurtkrag deur Eskom aangekondig is.
Die beurtkrag is onmiddellik in werking gestel en dele van die dorp het om die beurt vir ‘n paar ure sonder krag gesit.
Die beurtkrag en probleme, wat sedert verlede week by die Van Eck substasie ondervind is, het tot grootskaalse verwarring gelei.
“Ons weet nie meer wanneer beurtkrag gaan plaasvind nie,en ons weet nie wanneer dit Ekurhuleni se fout is nie,” het ‘n ontstoke Magda Bezuidenhout,van Minnebron, Vrydag aan die Herald gesê.
Eskom het wel teen Vrydag, verlede week,aangedui dat beurtkrag vir eers nie verder toegepas sal word nie.
Die Ekurhuleni Metro het verlede Dinsdag se kragonderbreking, wat die hele dorp (ook Brakpan-Noord) lamgelê het, toegeskryf aan foutiewe oorhoofse kabels op die Eskom netwerk.
Ingenieurs het onverpoos gewerk om die fout te herstel en die kragtoevoer na die dorp het om ongeveer 3nm weer in werking gekom.
Verskeie woonbuurte het egter sedertdien kragonderbrekings ondervind.
Inwoners se geduld het Maandag breekpunt bereik, toe die krag in die hele dorp (behalwe Brakpan-Noord) om ongeveer 3vm afgegaan het.
“Toe ek Maandagoggend wakker word kon ek nie glo dat ons weer sonder krag sit nie,” het ‘n inwoner van Brakpan-sentraal, wat gevra het om annoniem te bly, gesê.
Sy was ook boos omdat sy, volgens haar, die kliëntedienssentrum van die Ekurhuleni Metro onophoudelik en sonder enige sukses probeer kontak het.
“Dit maak nie saak watter nommer jy bel nie, die fone word doodeenvoudig nie geantwoord nie,” het die vrou gesê.
Die metro het Maandag ‘n verklaring uitgereik wat aangedui het dat ingenieurs hard werk om die probleem by die Van Eck substasie reg te stel.
Volgens die verklaring het ‘n stroombreker onklaar geraak en het dit tot die kragonderbreking gelei.
Die metro het ook verskoning gevra vir die ongerief wat dit veroorsaak het.
Kragtoevoer na dele van die dorp is vanaf ongeveer 5.30nm herstel, maar woonbuurte soos Brenthurst was tot Maandagaand om 11nm sonder krag.
‘n Woedende inwoner van Larrendale het die Herald Dinsdagoggend gekontak en gesê dat dié woonbuurt weer sonder krag was.
‘n Leser van Dalview, wat sy besigheid vanaf die huis bedryf, het gesê dat die situasie heeltemal onaanvaarbaar is.
“Die besighede van die dorp lei geweldige groot skade tydens die kragonderbrekings,” het die man, wat gevra het dat sy naam nie gepubliseer word nie, gesê.
“Ek moes Maandag dringende kwotasies per e-pos of faks doen en dit was nie moontlik nie.
“Ek verkies dit om die masjienerie werk deur besighede in Brakpan te laat doen, maar op dae wanneer die krag af is moet ek my besigheid noodgedwonge na naburige dorpe neem.
Elma van den Heever, wat ‘n haarkappersalon bedryf, sê dat dit ‘n absolute nagmerrie is wanneer die krag afgaan.
“Dit gebeur gewoonlik sonder waarskuwing, en ons sit soms met drie of vier kliënte met nat hare,” het sy vertel.
“Ons verloor ook baie besigheid, want mense bel op ‘n streep en kanseleer hul afsprake wanneer die krag af is.
”Ek sal seker moet oë toeknyp en ‘n kragopwekker aanskaf, maar met my geluk sal die krag dan nie weer afgaan nie.”



