Editor's noteLocal newsNews

Hier kan jy nog ‘n bord kos kry vir R15

Persone, en veral dié bo die ouderdom van 60 jaar, kan baie goeie voordeel trek uit lidmaatskap aan die Eric Holdtman Dienssentrum.

Die dienssentrum is in die Tweedy Park Kompleks geleë en bied daagliks ‘n hele rits aktiwiteite en dienste aan die lede.

Een so ‘n voordeel, vir lede bo 60 jaar, is die feit dat hulle daagliks ‘n gebalanseerde en smaaklike maaltyd kan nuttig vir ‘n skamele R15 per persoon.

Persone onder die ouderdom van 60 jaar is ook welkom om by die dienssentrum aan te sluit en al die voordele te geniet, maar etes is uitgesluit.

Bibi Stols, voorsitter van die sentrum, het verduidelik dat die sentrum daagliks vanaf 7vm tot 12middag oop is.

Lede kan die biblioteek op Maandae, Woensdae en Vrydae besoek en daagliks die haarkappersalon, wat dienste teen baie billike tariewe bied.

Daar word gereeld veerpyltjies, matrolbal, vingerbord en Bingo gespeel en vermaak word ook van tyd tot tyd aangebied.

Klubs soos die Knitter Knatters en die Bizzy Lizzies vergader maandeliks by die dienssentrum en lede is welkom om daarby in te skakel.

Lede kan ook die kliniek, wat Dinsdagoggende beman word, besoek.

“Dit is vir ons baie belangrik om soveel moontlik aan ons lede te bied,” het Bibi gesê.

Die ledegeld beloop R50 per jaar en persone wat dit nie kan bekostig nie kan dit maandeliks afbetaal.

“Ons wil baie graag meer mense oor die ouerdom van 60 jaar betrek, maar jonger mense is ook baie welkom om by die dienssentrum aan te sluit,” het Bibi gesê.

Vir meer besonderhede kan die bestuurder van die dienssentrum, Elsie Botha, of Bibi Stols, by 011 740 9565 gekontak word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button