Seun red sy sussie se kat uit boom
‘n 11-Jarige seun van Brenthurst het Sondag tot die redding van sy sussie se kat gekom, toe hy baie hoog in ‘n boom geklim het en die reddingspoging uitgevoer het.
Marilize Kempen, van Tweedylaan, het vertel dat haar dogter Zané se kat sedert Vrydag spoorloos verdwyn het en dat die gesin oral vir die dier gesoek het.
“Dillon het Sondag vir Storm in ‘n groot, hoë boom in ons bure se erf opgemerk en daar was nie ‘n maklike uitweg om by die kat uit te kom nie,” het sy gesê.
‘n Vasbeslote Dillon het nie gehuiwer om sy sussie se kat, wat nie kon afklim, te gaan red nie.
“Ons het hom maar mooi dopgehou en duime vasgehou dat hy, ten spyte van die dunner takke wat woes omgebuig het, nie val nie,” het Marilize gesê.
Die reddingspoging was darem heeltemal suksesvol en Storm en Dillon het hul na ‘n rukkie veilig op Moeder Aarde bevind.
Dillon hoog in die boom om by sy sussie se kat uit te kom.




