Opvolg: Erg beseerde jong man se ma hou aan hoop
Die ma van die jong man wat voor verlede Saterdag ernstig in ‘n ongeluk beseer is, is steeds vol hoop dat haar kind sal herstel.
Juan Marais het ‘n ernstige nekbesering opgedoen toe die motor waarin hy en sy pa, Jan, gery het, die pad verlaat het en verskeie kere gerol het. Beide is uit die voertuig geslinger en Jan is op die toneel oorlede.
Die ongeluk het op die ou Lokasiepad plaasgevind en Jan is daarna per helikopter na die Charlotte Maxeke Hospitaal in Johannesburg vervoer.
Volgens Gerda Marais, sou haar seun verlede Dinsdag ‘n operasie ondergaan het, maar as gevolg van infeksie in sy longe en bors is dit uitgestel totdat dit opgeklaar is.
“Die dokters het wel vir ons gesê dat die skade aan Juan se nek van so ‘n aard is dat hy waarskynlik van sy nek af ondertoe verlam is,” het Gerda vertel.
Gerda sê sy was Maandagaand langs haar seun se bed toe hy sy arms effe beweeg het: “Ek was in ekstase toe ek dit sien.”
Sy hou voet by stuk dat sy nie gaan opgee om te hoop dat haar seun volkome sal herstel nie.
Haar wens om haar man op hul 24ste huweliksherdenking ter ruste te lê het ook op ‘n manier uitgewerk.
“Ongelukkig val ons huweliksherdenking (24 Augustus) op ‘n Sondag en die kerk kon ons nie met die begrafnis akkommodeer nie,”het sy vertel.
Die begrafnis sal Maandag (25 Augustus), op 1nm, vanuit die Gemeente van die Lewende God, op die hoek van Hamilton- en Gordonlaan plaasvind.



