Local newsNews

Diewe hipnotiseer vrou en beroof haar

‘n Bejaarde inwoner van die dorp beweer dat sy verlede Maandag by in inkopiesentrum deur twee vroue gehipnotiseer is, voordat hulle haar van persoonlike besittings en kontant ter waarde van ongeveer R5 000 beroof het.

Die vrou (77), wat in Brakpan-sentraal woon, het versoek dat haar naam nie gepubliseer word nie.

Sy staan ook voet by stuk dat sy ‘n nugter denkende mens is en dat hierdie voorval haar heeltmal onkant betrap het.

Volgens die vrou was sy Maandagoggend in ‘n winkel waar sy in ‘n gesprek met ‘n vrou betrokke geraak het.

“Nog ‘n vrou het bygekom en op een of ander wyse het hulle my oorreed om na ‘n ander winkel te gaan,” het die vrou gesê.

“Ek sal nooit vir so iets val nie en dit laat my dink dat hierdie vroue my op ‘n manier gehipnotiseer of in ‘n beswyming gelaat het,” het die vrou gesê.

In ‘n ander winkel het die twee skelm vroue die bejaarde oorreed om al die juwele wat sy gedra het, asook haar handsak aan hulle te oorhandig.

“Daar was kontant, meer juwele, haar motorsleutels asook persoonlike dokumente soos haar identiteitsboekie in die handsak,” het sy vertel.

Die booswigte het dit selfs reggekry dat die vrou haar bankkaart se pinnommer op ‘n tipe masjien intik sodat hulle die nommer kon bekom.

‘n Bedrag van R1 000 is later uit haar rekening onttrek, aangesien haar bankkaart ook in die hadsak, wat gesteel is, was.

“Ek besef dat die storie baie vergesog klink, maar ek kan net nie verduidelik wat daardie twee vroue aan my gedoen het nie,” het sy gesê.

Die bejaarde moes intussen planne beraam om die slotte van haar huis te verander, asook die van haar voertuig.

“Ek is bang dat hulle my agtervolg het, om sodoende ook my voertuig te steel,” het sy gesê.

Kapt Joep Joubert, woordvoerder van die Brakpan SAPD, het gesê dat die publiek, veral bejaarde persone, uiters versigtig moet wees.

“Daar is baie mense daar buite wat enige skelmstreek in die mou sal voer om mense te beroof of leed aan te doen.

“Dit is raadsaam om nie met vreemdelinge gesprekke aan te knoop nie. Moet ook nooit persoonlike besittings, kontant en veral die pinnommer van jou bankkaart aan vreemdelinge verskaf nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button