Editor's choiceLocal newsNews

Man ry bloeiend na hospitaal nadat boewe hom aanval

‘n Inwoner van die dorp is verlede Woensdag vier keer met ‘n mes gesteek en het bloeiend van Alberton na Brakpan gery om by ‘n hospitaal uit te kom

Deon Buitendag (50) is in die regter been, maag, arm en bolyf gesteek toe hy in Alberton beroof is.

Hy vertel dat hy Woensdag, om ongeveer 10vm, op die hoek van Vereniging- en Potgieterstraat met sy bakkie stilgehou het.

Buitendag sê dat hy muntoutomaatmasjiene besit en dat hy op pad terug was na Brakpan nadat hy voorraad in sy masjiene gaan plaas het.

‘n Koelhouer, waarin daar sjokolade was, was agter in sy bakkie, maar die kap was nie gesluit nie.

“Ek het by die verkeerslig stilgehou en gesien hoe ‘n man met my koelhouer verby die bakkie stap,” het Buitendag vertel.

“Ek het besef dat hy dit agter uit die bakkie gevat het.

“Ek het hom geroep en gevra wat hy met my koelhouer doen, maar hy het gesê dat dit aan hom behoort.”

Buitendag het toe van die pad afgetrek en agter die man, wat begin hardloop het, aangehardloop.

“Vier mans het by my aangesluit en aangedui dat hulle my sou help,” het hy vertel.

“Die man met die koelhouer het deur ‘n gaping in ‘n muur gehardloop en ons is almal agterna.”

Dit was net hier waar dinge lelik skeef begin loop het vir Buitendag.

“Aan die ander kant van die muur het nog een of twee mans bygekom en ewe skielik was die hele spul teen my,” het hy vertel.

“Een van die booswigte het probeer om my met ‘n klip teen die kop te slaan.

“Ek het myself verdedig en ‘n erge stuweling het ontstaan.”

Een van Buitendag se aanvallers het hom met ‘n mes begin steek.

Hy is vier keer raak gesteek en het in die proses ook van sy ribbes beseer.

Nadat die aanvallers daarin kon slaag om sy selfoon uit sy hemp se sak te kry het hulle op die vlug geslaan.

“Ek het baie gebloei maar, omdat ek die omgewing nie so goed ken nie, het ek besluit om terug te ry na Brakpan,” het hy gesê.

“Uit die aard van die saak kon ek ook nie dadelik iemand bel om my te kom help nie.”

Buitendag het by die Life Dalview kliniek behandeling ontvang en is die volgende dag ontslaan.

Wat vir hom erg ontstellend is, is die feit dat sy vrou Claire (51) die volgende dag (verlede Donderdag) op presies dieselfde plek lastig geval is.

“Sy moes noodgedwonge die majiene gaan vul, aangesien ek nie kon bestuur nie,” het Buitendag verduidelik.

“Toe sy by dieselfde kruising stilhou het ‘n man ook probeer om die bakkie se kap oop te maak.

“Dit was gelukkig gesluit. Mense moet maar op en wakker wees en hul motors se deure en bakkies se kappe gesluit hou.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button