Groot lof vir Hoërskool Stoffberg
Verteenwoordigers van die Gautengse Departement van Onderwys het verlede Maandag besoek gaan aflê aan die Hoërskool Stoffberg.
Die doel van die besoek was om die hoof en personeel van die skool geluk te wens met die 100 persent slaagsyfer vir die sesde agtereenvolgende jaar en die skitterende matriekuitslae van 2014.
Interessante statistieke is voorgehou deur Linda Zwane (hoof opvoedkundige spesialis: kurrikulum), uit die kantoor van die streeksdirekteur, naamlik dat Stoffberg nie net die top akademiese skool in die distrik is nie, maar dat die hoeveelheid matrikulante wat met universiteitsvrystelling geslaag het, meer as dubbel die gemiddelde hoeveelheid in die streek en die Gauteng provinsie is, naamlik 58,9 persent.
‘n Verdere 31,1 persent het toelating tot diplomastudies verwerf.
Zwane het daarop gewys dat dit ‘n bewys is van die kwaliteit matriek wat by Stoffberg geskryf word.
Dit kon gesien word in die feit dat daar in elke matriekvak wat geskryf is onderskeidings behaal is.
Alhoewel die matriekgroep relatief klein was, het hulle nogtans met ‘n allemintige 81 vakonderskeidings weggestap. Twaalf leerlinge het 79 persent ontvang.
Sogenaamde moeilike vakke, soos wiskunde en fisiese wetenskap se gemiddelde persentasies het met 10 persent gestyg, ten spyte daarvan dat die landswye gemiddeldes in hierdie vakke ernstig gedaal het.
Hierdie vakke het ook verskeie onderskeidings opgelewer, met die beste prestasie in fisiese wetenskap, komende van Wiehan Rudolph, wat 96 persent daarvoor behaal het in die 2014 eksamen.



