SMS oor moeilikheid wat sou kom is onwaar
Die Brakpan SAPD het by monde van kapt Joep Joubert aan die Herald bevestig dat daar die afgelope tyd geen voorvalle van aanvalle op buitelanders in die dorp was nie.

“Ons was en is steeds gereed, maar geen voorvalle is by die Brakpan SAPD aangemeld nie,” het Joubert gesê.
Die land en dele van Ekurhuleni is die afgelope twee weke deur voorvalle van xenofobiese geweld geruk.
Daar was egter ‘n SMS wat Saterdag die rondte gedoen het en verskeie inwoners bekommerd gelaat het.
Dit is nie duidelik waar die SMS ontstaan het nie, maar Joubert het gesê dat die publiek twee keer moet dink voordat hulle onverantwoordelike en snert SMSe aanstuur.
Dit het soos volg gelui:
“Ernstige waarskuwing. Moet dit nie ignoreer nie. Alle brakpan inwoners moet om 10h00 by brakpan dam bymekaar kom. Om 12h00 stop die trein by brakpan stasie. Uitlanders kom plunder winkels in Prince george en Voortrekker weg. Polisie poog om hulle uit die dorpsgebied te hou maar daar is nie genoeg lede om dit te verseker nie. Vir verdere navrae kontak die naaste polisie stasie. Beskou dit as ernstig.”
Joubert het bevestig dat daar absoluut geen waarheid in die SMS was nie.
“Mense wat sulke onwaarhede versprei lok onnodige reaksie uit en kan hulself aan die verkeerde kant van die wet bevind,” het hy gesê.



