Editor's choiceLocal newsNews

Opvolg: Lid van anti-kapingseenheid sterk aan

Sers Okkie Venter (32), ‘n lid van die Brakpan SAPD se anti-kapingseenheid, wat Vrydag ernstig beseer is toe hy en kollegas verdagtes gejaag het, sterk goed aan en is Dinsdagmiddag uit die hospitaal uit ontslaan.

Venter het Saterdag ‘n suksesvolle operasie aan sy linker arm, wat sleg gebreek het, ondergaan. Hy het ook verskeie ander beserings opgedoen.

Sy twee kollegas, konst Jacques Vivier en konst Collen Mashakeni, wat ook in die ongeluk beseer is, is reeds ontslaan.

Venter was Vrydagoggend saam Vivier en Mashakeni in ‘n ongemerkte misdaadvoorkomings voertuig, in Dalpark 6.

Die span was in die omgewing om patrollies te doen, aangesien huisrowe en huisbraak dáár aan die toeneem is.

Hulle het ‘n verdagte voertuig opgemerk en ‘n jaagtog het ontstaan.

In Etoshastraat het die polisievoertuig op ‘n skerp draai buite beheer graak en deur die muur van ‘n woonhuis gebars.

Sers Venter, is na die Glynnwood Hospitaal, in Benoni, vervoer.

Konst Vivier en konst Mashakeni is na dieselfde hospitaal vervoer, met minder ernstige beserings.

Sers Venter se vriendin van die afgelope twee jaar, Olivia van Eck (34), was in Durban toe sy die nuus van die ongeluk gekry het.

Sy het pas daar geland om aan die Suid-Afrikaanse “Line”-dans kampioenskappe deel te neem en kon eers Maandag terugkeer.

“Dit was ‘n baie, baie moeilike naweek vir my, want ek wou net by Okkie wees,” het Olivia gesê.

Sy het, ten spyte van haar kommer, tog ‘n derde plek tydens die kampioenskappe behaal.

Volgens haar was die operasie wat sers Venter Saterdag ondergaan het suksesvol.

“Hy verduur nog baie pyn en ongemak, maar onder die omstandighede gaan dit beter met hom,” het sy gesê.

Inligting oor die verdagte voertuig, ‘n Wit Ford Figo, is Vrydag, na die ongeluk, dadelik deurgegee en die motor is kort daarna opgespoor, toe dit in Barry Maraisweg in ‘n botsing betrokke was.

Een verdagte het van die toneel weggehardloop en drie is op die toneel gearresteer.

Volgens kapt Joep Joubert, woordvoerder van die Brakpan SAPD, is twee van die verdagtes in die hospitaal en een in aanhouding.

Die mans staar klagtes van roekeloos en nalatige bestuur, versuim om stil te hou na ‘n motorongeluk asook die gebruik van vals nommerplate op ‘n voertuig in die gesig.

Die moontlikheid dat die verdagtes met ander misdrywe verbind kan word, word ook tans ondersoek.

Die ongelukstoneel in Etohshastraat, waar drie lede van die anti-kapingseenheid beseer is.
Die ongelukstoneel in Etohshastraat, waar drie lede van die anti-kapingseenheid beseer is.

Lees die vorige berig hier: 

Drie van anti-kapingseendheid beseer toe hulle op die spoor van verdagtes is

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button