Hierdie skou is ‘n moet vir motorliefhebbers
Die Just Wheels Motorskou, wat sedert 2009 aangebied word, vind weer môre (Saterdag), op die gronde van Muriel Brand Skool plaas.
Click here for English version
Die skou het sedert sy ontstaan geweldig gegroei en verlede jaar was daar honderde motors te sien.
“Met die eerste skou, ses jaar gelede het ons 65 motors gehad; verlede jaar was daar meer as 400 voertuie op die skou en ongeveer 3 000 mense het die geleentheid bygewoon,” het Bart Zaayman, organiseerder, gesê.
Skougangers sal ‘n groot verskeidenheid klassieke, veteraan en nuwe voertuie kan besigtig. Daar sal ook bakkies, motorfietse, trekkers en sportmotors te sien wees.
‘n Hoogtepunt, elke jaar, is die ossewa waarop die publiek kan ry.
Die organiseerders het die versekering gegee dat dié indrukwekkende span osse en wa weer vanjaar deel van die skou sal wees.
Verskeie uitstallings van militêre- en nooddiensvoertuie sal ook te sien wees.
Daar sal ook ‘n 4×4-baan wees, waar mense hul vernuf kan toets.
Volgens die organiseerders sal daar, soos in die verlede, meer as genoeg eet- en drinkgoed wees. Vermaak en kompetisies sal ook deur die loop van die dag aangebied word.
‘n Toegangsfooi sal gehef word en alle fondse wat ingesamel word, sal aan Oos-Rand Stereo se Wees ‘n Engel-projek, asook aan die Muriel Brand Skool, geskenk word.
Die hekke open om 6vm vir uitstallers en om 8vm vir die publiek.
“Ons vra ook baie mooi dat die publiek blikkies nie-bederfbare kos sal saambring,” het Zaayman gesê.
“Daar is groot nood op die dorp, veral in die winter, en dié kos sal met die hulp van die Wees ‘n Engel-projek aan minder bevoorregte mense geskenk word,” het Zaayman gesê.
Kliek hier onder om na die foto’s te kyk van laasjaar se skou:




