CrimeNews

“Brakpan-krappers” krap waar dit nie jeuk nie

‘n Egpaar van Joneslaan, wat vir die derde keer in nege maande deur misdaad geraak is, voel dat daar drasties iets gedoen moet word aan kriminele wat net maak soos hulle wil.

Die vrou (58) en haar man (56) het sowat nege maande gelede na Brakpan verhuis, juis omdat hulle gehoor het dat dit ‘n rustige dorp is.

“Ons het regtig niks teen die dorp nie, dis ‘n gawe plek, maar die `Brakpan-Krappers’ is besig om te krap waar dit nie jeuk nie,” het die vrou, wat versoek het dat hulle nie geïdentifiseer word nie, gesê.

(Sy het kriminele, wat kwaad stook in die dorp,`Brakpan-Krappers’ gedoop).

Die egpaar het goeie sekuriteit by hulle huis in Joneslaan aangebring, maar ten spyte daarvan, is hul hekmotor Vrydagnag erg beskadig toe ‘n dief dit probeer steel het.

“Die hekmotor het sowat R7 000 gekos en die skade is groot,” het die vrou gesê.

“Die `krapper’ het presies geweet wat hy doen, aangesien ons sekuriteitskameras en geëlektrifiseerde heining buite werking gestel is.”

Die Brakpan SAPD het onlangs gemaan dat hekmotordiewe weer baie bedrywig is in die dorp.

“Ons leef alreeds soos gevangenis in ons eie huise. Ek weet nie meer wat ons kan doen om misdaad hok te slaan nie,” het die vrou, wat voorheen self vir die SAPD gewerk het, gesê.

By ‘n vorige geleentheid het ‘n huishulp ‘n skootrekenaar en ander items uit die huis gesteel toe die vrou vlugtig inkopies gaan doen het.

“Dit was natuurlik die laaste sien van die huishulp en my goed,” het sy vertel.

Daarna het twee bedelaars na die vrou se hek gekom, toe sy eendag oppad was om te ry.

“Die hek was reeds oop en ek het net gou ‘n deur gesluit,” het sy gesê.

“Hulle het met stories gekom dat hulle honger is en, toe my aandag vir ‘n wyle afgetrek is, het die man ‘n hoeksnyer van ons bakkie afgesteel en laat spaander.

“Dit is nou wel net ‘n hekmotor en ‘n hoeksnyer en ‘n skootrekenaar, maar waarom moet mense goed vat wat nie aan hulle behoort nie?” het die vrou gevra.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button