Pleegouers word al minder
Oor die afgelope drie jaar het die getal pleegouers in die land drasties afgeneem.

Vanaf meer as 570 000 pleegouers aan die einde van 2013 het hierdie getal, wat toelaes ontvang, gedurende 2016 tot 450 000 gedaal.
Solidariteit Helpende Hand het ‘n spesiale platform bekendgestel om die tekort aan pleegouers die hoof te bied, deur die proses vir potensiële pleegouers makliker te maak.
Potensiële pleegouers worstel met heelwat vrae oor pleegsorg en dit verhinder hulle om hulself as pleegouers beskikbaar te stel.
Dit is een van die redes waarom Helpende Hand die platform www.pleegsorg.co.za geskep het, waar hierdie vrae beantwoord kan word.
Voornemende pleegouers, of persone wat hul woning as plek van veiligheid wil beskikbaar stel, kan op hierdie webblad registreer.
Hul gegewens word voorts aan die onderskeie geregistreerde kinderbeskermingsorganisasies, wat die keuringsproses hanteer, versprei.
Alhoewel Helpende Hand nie oor die statutêre magte beskik om kinders in pleegsorg te plaas nie, is hulle, vanweë hul betrokkenheid by armoede onder mense, bewus van gebreke in die stelsel.
Pleegsorg.co.za verduidelik in diepte wat pleegsorg behels en bied ’n uiteensetting van die regte van die pleegouer, biologiese ouers en die pleegkind. Voornemende pleegouers kan hulself hier beskikbaar stel vir pleegsorg.
Pleegsorg behels dat ‘n kind by gekeurde pleegouers geplaas word nadat hy of sy deur die Kinderhof, ingevolge die Kinderwet, sorgbehoewend bevind is
Al die nodige inligting oor die proses is op www.pleegsorg.co.za beskikbaar.
Lede van die publiek wat belangstel om pleegouers te word kan op die Pleegsorg-platform registreer en sodoende in aanraking gebring word met maatskaplike organisasies wat dringend op soek is na pleegouers.



