Editor's choiceLocal newsNews

VIDEO: Wegbreek naweek begin met ‘n skok

Alhoewel agt mense beserings opgedoen het, is niemand ernstig of noodlottig beseer nie.

‘n Kleuterskool onderwyseres van die dorp en haar vriend was Vrydag twee van die mense wat in die Steers, by die Total Panorama Petroport was, toe ‘n gedeelte van die dak ineen gestort het.

Die kitskosrestaruant is op die brug wat oor die N1 strek geleë, met vulstasies aan weerskante. Dit word jaarliks deur duisende mense besoek.

Alhoewel agt mense beserings opgedoen het, is niemand ernstig of noodlottig beseer nie.

Karla la Grange (19) en Arno Steenkamp (23) was op pad vir ‘n wegbreek naweek na Warmbad, toe hulle verlede Donderdag, om ongeveer 11.30vm, by die restaurant stilgehou het om iets te eet.

Karla het Maandag aan die Herald vertel dat die ondervinding skrikwekkend was en dat Arno, nadat sy geval het, bo-op haar gaan lê het, om haar te beskerm.

Arno, wat self groot geskrik het, het ook nie gehuiwer om ‘n bejaarde man en vrou te hulp te snel nie nadat die dak gedeeltelik ingetuimel het.

“Ons het kos en koffie bestel en het nog gewag vir ons koffie toe die eerste stuk plafon geval het,” het Karla vertel.

“Ons was glad nie bekommerd nie, want die personeel het dadelik gereageer en die gedeelte waar dit geval het afgeskort met stoele.”

“Daarna het nog twee stukke geval en ewe skielik was dit soos ‘n domino-effek.

“Ek het Arno se goed gegryp en al my goed op die tafel gelos en ons het, soos al die ander mense, begin hardloop.”

Karla het in die proses geval en Arno kon haar nie vinnig genoeg weer op haar voete kry nie.

“Hy het bo-op my gaan lê om my van die vallende panele te beskerm,” het sy gesê.

“Gelukkig vir ons, het die ineenstorting opgehou reg op die plek waar ons gelê het,” het Arno bygevoeg.

“Ek het vir Karla opgehelp en gesê sy moet uitgaan. Ek het toe die bejaarde man en vrou gesien en hulle gaan help, voordat ek ook uitgegaan het.”

Karla het hierdie foto geneem pas nadat die dak ineen gestort het.
Karla het hierdie foto geneem pas nadat die dak ineen gestort het.

Karla het haar elmboog lig beseer toe sy geval het. Arno het met net ‘n ligte skrapie aan die arm daarvan afgekom.

“Die paramedici was bitter gou op die toneel en daar is na die beseerdes omgesien,” het Karla gesê.

Die paartjie het besluit dat die onaangename voorval nie hulle naweek-planne in die wiele gaan ry nie.

Dit was nou wel ‘n bietjie later as wat hulle beplan het, maar hulle het tog in die pad geval en die naweek gaan geniet.

Die snelweg was Vrydag, na die voorval, vir ‘n ruk in albei rigtings gesluit en verkeer is deur die twee vulstasies herlei.

Lees ook:

Pretoria highway closed after Steers restaurant roof collapse 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button