Oudste Gertenbach ter wêreld vier 100ste
“Alhoewel daar uitdagings op my pad gekom het, het my geloof my deur alles gehelp en ek is verbaas en trots op alles wat ek al bereik het.”
Adriaan Gertenbach het Sondag ‘n eeu oud geword en is nou amptelik, volgens navorsing, die oudste lewende Gertenbach ter wêreld.
Alhoewel Adriaan, bekend as Attie, Sondag 100 geword het, het hy die merkwaardige mylpaal Saterdag, in die APK saal gevier, saam met familie en vriende.
Attie is op 19 Junie 1916 in Luckhoff, in die Vrystaat gebore. In 1918 is beide sy ouers oorlede en hy en sy broer Kobus het by hulle ouma en oupa op die plaas gaan woon.
Attie se vrou, Hettie (86), het genoem dat sy dink die geheim dat hy al so lank lewe is omdat hy op die plaas groot geword het.
“Ek glo Attie se gesondheid is te danke aan die gesonde leefstyl wat hy op die plaas gehad het,” het sy vertel.
”Daar was glad nie ‘n tekort aan noodsaaklike voedingstowwe nie; mens kry alles van die plaas af, en op ‘n plaas bly mens besig en aktief.”
Attie het sy kop instemmend gesknik en bygevoeg dat sy ouer broer ook gesond was en eers in sy laat 80s oorlede is.
“Ek het op die ouderdom van 66 eers afgetree, nadat ek vir 42 jaar vir dieselfde maatskappy gewerk het, en probeer nogsteeds aktief bly. Ek was nog altyd aktief gewees en geniet sport,” het Attie gesê.
Hy is ook ‘n kranige tuinier en in 2015 het die Herald berig oor ‘n groot tamatie, wat amper 750g geweeg het, wat Attie in sy tuin gevind het.
“Ek geniet dit om tuinwerk te doen. My tuin is my trots, daarom was dit vir my hartseer na daai haelstorm wat Brakpan beleef het,” het hy vertel.
Toe Attie gevra is hoe hy en Hettie mekaar ontmoet het, was daar net ‘n groot glimlag op sy gesig.
“Hy het my eendag gebel, dit was iewers in 2000, en gevra of ek saam met hom die kerkete wil bywoon,” het Hettie vertel.
“Ek het ja gesê en daarna het ek hom gebel vir koffie om dankie te sê vir die uitnodiging. Toe het ons gereeld goed begin saam doen en, op 21 Januarie, 2001, is ons getroud.”
Attie, wat ‘n inwoner van Brakpan is en sedert 1950 in dieselfde huis in Brenthurst woon, het geen kinders van sy eie nie, maar sy huidige vrou het wel drie.
Attie en sy eerste vrou, Jeanette, is op 9 Desember 1946 getroud. Jeanette het ongelukkig komplikasies na ‘n operasie ondervind en is op 1994 oorlede.
“Alhoewel daar uitdagings op my pad gekom het, het my geloof my deur alles gehelp en ek is verbaas en trots op alles wat ek al bereik het,” het Attie afgesluit.
Lees ook:
Op en wakker inwoner vier 99 jaar



