Editor's choiceLocal newsNews

Sestig jaar gelede trou aan mekaar beloof

Jan en Hettie Prinsloo het deur dik en dun bymekaar gestaan deur die jare.

‘n Oor en weer gekuiery, wat 60 jaar gelede tussen twee broers en susters ontstaan het, het daartoe gelei dat ‘n egpaar van die dorp onlangs ‘n seldsame gebeurtenis kon vier.

Jan (82) en Hettie (80) Prinsloo, van Gold Reef Village, het onlangs hul 60ste huweliksherdenking saam met vriende en familie gevier.

Jan en Hettie Prinsloo (middel) het hul 60ste huweliksherdenking saam met familie gevier.
Jan en Hettie Prinsloo (middel) saam met familielede wat die vieringe bygewoon het.

Die egpaar se drie dogters, Linda Prinsloo, Heleen Venter en Elsa van Niekerk, het reggestaan om al die reëlings te tref vir hulle ouers se spesiale huweliksherdenking, wat by die Gold Reef Village aftree-oord se ontspanningsaal plaasgevind het. Die egpaar is inwoners van dié aftree-oord.

“Wat dit vir ons meer spesiaal gemaak het, is dat die hele familie, van oupa en ouma tot die kleinste agterkleinkind, vir die eerste keer in baie jare bymekaar was omdat ons so verspreid is; van Londen tot Kaapstad en oral tussenin,” het Linda vertel.

Die egpaar het ook vier kleinkinders en vier agterkleinkinders.

Nog ‘n dogter, Annetjie McDonald, is in 1999 aan kanker oorlede.

IMG_8405 (Large)
Die twee paartjies op hul troudag saam met die strooimeisies.

Die Prinsloos se liefdesverhaal het met ‘n ongewone kinkel begin aangesien hulle 60 jaar gelede op dieselfde dag as Jan se broer, Sewes Prinsloo, en Hettie se suster, Netta, die knoop deurgehaak het.

“My suster het eerste vir Jan se broer, Sewes, ontmoet. Netta het my eenkeer gevra om haar te vergesel toe sy vir Sewes gaan kuier en dit is waar alles begin het,” het Hettie vertel.

Die twee paartjies het hul huweliksbeloftes aan mekaar in die NG Kerk Kempton Park afgelê.

“Ons troudag was uniek en merkwaardig gewees. Ek en Netta het in afsonderlike gange die kerk binnegestap. Ons al vier het toe saam voor die kansel gaan staan en ewige trou aan mekaar beloof.”

Sewes en Netta is sedertdien oorlede.

Jan en Hettie het deur dik en dun bymekaar gestaan deur die jare.

“Verlede jaar het ek vreeslik siek geword en byna by die dood omgedraai,” het Jan vertel.

Jan het bygevoeg dat hy ongeveer 40 kilogram gewig verloor het in ‘n kort tydperk wat hy in die hoësorgeenheid van ‘n hospitaal was.

Hettie se gesondheid het ook gedurende dieselfde tyd vir ‘n ruk agteruitgegaan en sy het in die hospitaalbed reg langs Jan s’n beland.

“Darem het ek ‘n vrou wat goed vir my sorg en seker maak ek tel weer lekker gewig op,” het Jan vertel terwyl hy skaam-skaam na sy vrou loer.

IMG_8410 (Large)
Jan en Hettie Prinsloo.

Die twee bejaardes het ook genoem dat hulle amper so lank in Brakpan woon as wat hulle getroud is.

“’n Jaar nadat ons getroud is, het ons begin huis soek. Toe ons in Brakpan kom kyk het, het ek dadelik geweet dit is die perfekte plek vir ons. Daardie jare was Brakpan darem maar lieflik gewees,” het Hettie vertel.

Die egpaar het bygevoeg dat alhoewel hulle eers sedert verlede jaar September inwoners is van Gold Reef Village, hulle klaar tuis voel.

Lees ook: 

Egpaar vier 50 jaar van liefde

Mooi bene sorg vir 60 jaar se huweliksgeluk 

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Ontvang die nuutste nuus op jou foon:

WhatsApp nommer:  0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button