Hoop in sig vir boetie en sussie se visie stryd
“Ons sal alles in ons vermoë doen om vir ons kinders ‘n normale lewe te skep en ons hoop dat die antwoorde wat ons uit Manchester sal kry die eerste stap in die regte rigting sal wees.”
‘n Boetie en sussie van die dorp se enigste hoop om dalk eendag normale visie te hê hang af van gevorderde toetse, wat in Manchester, Engeland, gedoen moet word.
Mianke (5) en Dihandré (3) van Niekerk, van Kenleaf, is albei met beperkte visie gebore en volgens hul ma, Tershia, kon daar tot op hede nog nie bepaal word wat die rede vir haar kinders se sigprobleem is nie.
Volgens Tershia kon daar ook nog nie bepaal word watter persentasie sig die kinders het nie.
Beide dra ‘n bril. Mianke het haar bril begin dra toe sy 11 maande oud was en Dihandré toe hy maar nege maande oud was.
“Die brille help egter glad nie met hulle visie nie, en hulle kan net soveel met die brille as daarsonder sien,” verduidelik Tershia.
“Die brille is daar om hulle ogies meer te laat fokus en om te help met nystagmus (onwillekeurige pendulêre oog bewegings).”
“Omdat daar nie kan bepaal word hoeveel hulle kan sien nie, kan daar nog nie vir hulle brille gemaak word wat hul visie sal verbeter nie.”
“Ons hoop is tans gevestig op DNS-toetse, wat in Manchester gedoen gaan word en hopelik vir ons meer duidelikheid sal gee oor die moontlike diagnose asook behandeling,” het Tershia gesê.
“Retina Suid-Afrika staan ons by om dit ‘n moontlikheid te maak.”
Volgens Tershia, is daar geen geskiedenis van enige oogafwyking of sigprobleem by haar of haar man, Danie, of van die nabye families aan beide kante nie.
“Ek weet dat hulle met die sigprobleem gebore is. Ek is self in die mediese veld en het toe Mianke vier maande oud was besef dat daar fout was. “
“Uit my ondervinding met Mianke kon ek vinniger agterkom dat Dihandré dieselfde probleem het.
“Ons hoop dat die DNS-toetse, wat gedoen gaan word, antwoorde op al ons vrae sal bring.”
“Ek glo dat daar behandeling of die opsie van ‘n operasie is, maar ons moet eers vasstel wat die kinders se diagnose is voordat ons sulke stappe kan neem.”
“Dit is juis daarom van kardinale belang dat die toetse gedoen word.”
Tershia het verduidelik dat die wiel reeds aan die rol is.
“Bloed is by Dihandré geneem en dit is na Kaapstad gestuur, waar die DNS onttrek sal word.”
“Die DNS word dan na Manchester gestuur vir volledige ontleding en hopelik sal ons dan antwoorde kry.”
Tershia het verduidelik dat dit op die stadium net nodig was om een van die kinders se DNS vir ontleding te stuur.
Die hele proses het groot finansiële implikasies en die ouers het onlangs ‘n fondsinsamelingsprojek van Dihandré se kleuterskool verwelkom.

Die Akker Rakker het ‘n projek aangepak en sodoende R5 245 ingesamel.
Tershia vertel dat haar twee spruite, ten spyte van hul sigprobleme, doodgewone lewenslustige kinders is.
“Albei geniet dit om na musiek te luister en doen graag saam met my en Danie oefeninge.
“Hulle is lief vir swem en Mianke dans graag en doen ook drama. Sy is in die Laerskool Dalview se voorskoolse klas.
“Ons sal alles in ons vermoë doen om vir ons kinders ‘n normale lewe te skep en ons hoop dat die antwoorde wat ons uit Manchester sal kry die eerste stap in die regte rigting sal wees,” het Tershia gesê.
Lees ook:
Siblings battle near vision loss
Volg ons:



