Sakeman verloor stryd teen kanker
Dirk Ferreira het die afgelope 41 jaar in dieselfde huis in Kitzingerlaan gewoon en was passievol oor die dorp en sy inwoners.
’n Inwoner van die dorp wat bekend geword het vanweë die slaghuis wat hy vir jare besit het, is verlede Maandag op die ouderdom van 74 oorlede.
Dirk Ferreira het vir 20 jaar die Brakpan Meat Supply in Voortrekkerweg besit en was altyd agter die toonbank om sy kliënte self te bedien en raad te gee waar hy kon.
Ferreira is op 23 Oktober 1943 in Zambië gebore en het in 1976 in Brakpan aangekom waar hy nes geskop het.
Hy het kort daarna die slaghuis op die been gebring.
Na 20 jaar in die vleisbedryf het hy besluit om ’n nuwe uitdaging aan te pak en het hy die eienaar van Mr Sign in Benoni geword.
Hy het dié onderneming vir 21 jaar bedryf voordat dit op 9 Augustus verlede jaar in ’n brand vernietig is.
Ferreira het na dié voorval besluit om af te tree en dinge so bietjie kalmer te vat aangesien hy sedert 2008 ’n stryd met prostaatkanker gevoer het.
Die gewilde sakeman en sy vrou Rea (70) het vroeër vanjaar hul 50ste huweliksherdenking gevier maar het mekaar vir 55 jaar geken.
Die egpaar het twee kinders, Rynette van Rooy (50) en Dirk (jnr) (44) asook een kleinseun Gustaf Rooy (22).
Ferreira het die afgelope 41 jaar in dieselfde huis in Kitzingerlaan gewoon en was passievol oor die dorp en sy inwoners.
Rea het groot lof vir die persone wat hom tydens sy siekbed en veral gedurende die laaste tyd versorg het gehad.
Die verassingsdiens het Vrydag plaasgevind.
Volg ons:
Ontvang die nuutste nuus op jou foon:
WhatsApp nommer: 0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)



