AfriForum Brakpan spreek misnoeë uit nadat landmerkgebou brand
Die AfriForum Brakpan-takbestuur het verlede week hul misnoeë uitgespreek nadat 'n landmerkgebou in die Brakpan begraafplaas deur 'n brand in puin gelê is.
“AfriForum Brakpan betreur die sinnelose vernietiging van ons gemeenskap se erfenis,” het Gerhard Cilliers, taksekretaris van AfriForum Brakpan, gesê.
Dit volg nadat die kenmerkende ou kapel geboutjie in die begraafplaas Donderdag byna totaal vernietig is toe dit gebrand het.
Volgens gerugte was dit die handewerk van jeugdiges.
Daar is egter geen saak by die SAPD aangemeld nie en tot dusvêr is niemand in verband met die voorval aangekeer nie.
AfriForum Brakpan het die afgelope tyd druk op alle rolspelers geplaas om die toestand van die Brakpan begraafplaas te verbeter en die vernietiging van die bekende landmerk word beskou as ‘n groot verlies vir die gemeenskap en die dorp se erfenis.
Tydens ‘n onlangse besoek aan die begraafplaas met verteenwoordigers van die Metroraad het die takbestuur weer eens hulle kommer oor die sekuriteit en toegangsbeheer tot die begraafplaas sterk uitgespreek.
“Die plaaslike stadsraad se voortslepende versuim en onbevoegdheid om daadwerklik aksie te neem en die nodige maatreëls te implimenteer om die gronde te beveilig, maak hulle noodwendig medepligtig in die tragiese verlies van ‘n erfenisgebou in Brakpan,” het Cilliers gesê.
Hy het bygevoeg dat daar volgende jaar in erns begin word met voorbereidings vir die eeufeesviering in 2019 en dat nog ‘n landmerkgebou in die dorp nou tot niet is.
“AfriForum Brakpan-tak gaan hom ten sterkste uitspreek teen die stadsraad en met alle moontlike bronne toesien dat die ou kapel geboutjie nie gesloop word nie.”
“Waar dit tot onlangs toe nog ‘n onderhoudsaangeleentheid was is dit vandag ‘n herstel-, of restorasie-, of versekeringsaangeleentheid. Die staat is verantwoordelik vir die selfversekering van eiendom in hulle sorg,” het Cilliers gesê.
“AfriForum Brakpan-tak, as waghond organisasie, beywer hom onverpoosd vir die behoud van ons gemeenskap se erfenis en strukture en sal alle weë ontgin om die plaaslike regering vir die nakoming van hulle verantwoordelikhede tot verantwoording te hou.”
“AfriForum, in noue samewerking met die plaaslike SAPD en GPF-strukture, doen ‘n ernstige beroep op enige lede van die gemeenskap wat oor inligting mag beskik wat kan lei tot die inhegtenisname van die verantwoordelike partye om onverwyld met die takbestuur, GPF of SAPD te skakel,” het Cilliers bygevoeg.
Lees ook:
AfriForum spreek probleme by begraafplaas aan
Afriforum se visier steeds op die begraafplaas
Afriforum wil begraafplaas regruk



