‘Ek moes my tande insluk om te kon aanhou asemhaal’ – slagoffer van gewelddadige aanval vertel
Sy gesig is herhaaldelik met soveel geweld teen die vloer geslaan, dat van sy tande gebreek het.
Agt jaar nadat ’n inwoner van die dorp wreedaardig in sy huis aangeval, gemartel en vir dood agtergelaat is, het hy Vrydag die soete smaak van geregtigheid ervaar.
Vier mense wat Herman Smit (57) op 27 Julie 2009 in sy huis in Dalpark 5 oorval en beroof het, is Vrydag in die Brakpan Streekshof vir die barbaarse aanval op hom, gevonnis.
Herman het Maandagoggend gesê dat dit inderdaad ’n lang agt jaar was en dat daar tye was dat hy gevoel het dat die saak nooit tot ’n punt gaan kom nie.
“Vrydag toe die vier skuldiges gevonnis is, het ek beslis ’n mate van afsluiting ervaar maar die voorval het ’n groot impak op my lewe gehad,” het Smit vertel.
Op die oggend van 27 Julie 2009 het ’n huishulp van die Smit-gesin eers die gesin se Doberman vergiftig en toe gesorg dat vier mans toegang tot die huis gekry het.
Smit was op dié koel oggend nog rustig in sy bed en heeltemal onbewus van die gevaar wat sy huis binnegedring het.
Sy kamerdeur was gesluit.
“Ek kan tot vandag toe nog nie sê waarom ek my deur daardie oggend gesluit het nie, aangesien dit nie my gewoonte was nie.”
Toe hy sien dat die handvatsel van die deur afgedruk word, was dit vir hom vreemd aangesien die huishulp nooit die kamer sou binnegaan as hy nog binne in die kamer sou wees nie.
“Ek het opgestaan en eers nadat ek die deur oopgesluit het, het ek besef dat daar groot fout is.”
Smit het die deur weer probeer toe kry maar die krag van vier mans, wat aan die anderkant gewag het, was net te veel.
“Ek het die deur met my voet probeer stuit maar dit het gebreek en my voet gesny.”
“Die deur het uiteindelik gebreek en die vier mans was by my in die kamer.”
’n Uur en ’n half van loutere hel het vir Smit aangebreek.
Sy aanvallers het ’n hele rol kleefband (duct tape) om sy kop en nek gedraai. Hy kon daarin slaag om sy tong ’n entjie uit te steek, wat hom in staat gestel het om asem te haal.
Sy voete is vasgebind en so ook sy hande agter sy rug.
Hy is genadeloos geslaan en sy aanvallers het onophoudelik op sy rug gespring terwyl hy magteloos was om homself te verdedig.
Sy gesig is herhaaldelik met soveel geweld teen die vloer geslaan, dat van sy tande gebreek het.
“Ek het geen ander keuse gehad as om my tande in te sluk in ’n poging om te kon aanhou asem haal”
Die genadelose aanval het nie opgehou nie en Smit is ook 43 keer met ’n mes gesteek.
Sy borsbeen en agt van sy ribbebene, asook sy neus, is ook gebreek.
“Daar was ’n stadium waar ek net nie meer enige pyn gevoel het nie.”
Smit het wel gehoor dat sy aanvallers se volgende plan was om hom met ’n strykyster te brand.
Genadiglik vir hom is hy van dié marteling gespaar.
Die aanvallers het begin om die koorde van elektroniese ware, wat hulle wou steel, te knip en sodoende is die kragtoevoer tot die huis onderbreek.
Die strykyster waarmee Smit gebrand sou word het nie warm geword nie.
Die vier mans het die huis geplunder en onder andere elektroniese ware, juweliersware en kontant in Smit se Audi gelaai.
Twee van hulle makkers het buite in ’n ander voertuig gewag.
Smit is uiteindelik in ’n kas geprop en die huis het stil geraak.
’n Ernstig beseerde Smit het later gehoor dat sy huishulp weer in die huis gekom het en hy kon homself uit die kas bevry.
“Die huishulp het my hande losgesny maar ek het absoluut geen gevoel meer in my hande gehad nie.”
Smit, wie se voete nog steeds vasgebind was, het tot by ’n deur gesukkel, waar ’n buurman se tuinier hom gesien en dadelik alarm gemaak het.
“Alles het daarna baie vinnig gebeur. Die SAPD was baie gou op die toneel. Ek het vandag nog groot bewondering daarvoor.”
Smit is na die hospitaal geneem waar hy behandeling ontvang het.
Die stukkies van die legkaart het kort daarna in plek geval en volgehoue en briljante werk van lede van die Brakpan polisie het daartoe gelei dat die huishulp, Betty Sindane en ses mans kort na die gewelddadige voorval aangekeer en gearresteer is.
Agt jaar van hofverrigtinge het gevolg.
Twee van die mans, wat nie regstreeks by die aanval op Smit betrokke was nie, het staatsgetuies geword. Hulle het op die dag buite in ’n voertuig gewag.
Betty Sindane (56), Samuel Mkhwanazi (33) Absalom Mobena (33) en Sakhile Qungani (32) is al vier skuldig bevind op aanklagte van poging tot moord en roof met verswarende omstandighede.
Vrydag is vyftien jaar tronkstraf aan elkeen vir elk van die oortredings opgelê.
Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.
Die bogenoemde skuldiges was gedurende die hofproses, tot hul skuldigbevinding, uit op borgtog.
’n Vyfde aangeklaagde, Goma Jabu, was in aanhouding en is in die tronk oorlede.
Smit het gesê dat hy groot lof het vir talle mense wat gesorg het dat geregtigheid uiteindelik geseëvier het.
Hy het die senior staatsaanklaer, George Makhudu; die ondersoekbeampte in die saak, s-sers Sibusiso Xaba asook kapt Peet van der Schyff, kol Heidi van der Schyff en adj-off Jan Roos uitgesonder.
“Daar was werklik tye gedurende die agt jaar wat ek gedink het dat die dag van rekenskap nooit sou aanbreek nie.”
“Die bogenoemde mense, asook betroubare staatsgetuies en almal wat my ondersteun het, het gesorg dat ek Vrydag ’n onaangename hoofstuk in my lewe kon afsluit.”
Lees ook:
Honde vergiftig, eienaar vermoed huis is gemerk
Brakpan crime stats show an increase in murder and rape
Motorfietsdiewe slaan weer toe: Drie motorfietse uit motorhuis in Brakpan gesteel
Volg ons:



