NewsSchools

Rolstoelvriendelike speelgrond bring vreugde

‘n Droom het Vrydag waar geword vir leerders sowel as personeel van Felicitas Skool toe ‘n rolstoelvriendelike speelgrond, vir die skool se serebraal gestremde leerders, amptelik in gebruik geneem is.

Thelma Koorts

brakpanherald@caxton.co.za

Dit was ‘n doelwit en droom, wat in 2015 reeds begin vorm aanneem het, toe personeel van die skool se “Cerebral Palsy” departement (CP departement soos dit bekend staan) ‘n voorlegging aan die beheerliggaam van die skool gedoen het en ook met ‘n fondsinsamelingsprojek begin het.

Om fondse te genereer is daar vroeër vanjaar aansteek speldjies in samewerking met Trust Trophies vervaardig en teen R10 stuk verkoop.

“Ons het ook besluit om as deel van die CP-Bewustheidsmaand, wat altyd in Maart plaasvind, die fondsinsamelingsprojek uit te brei na ander skole, het Hanli Zietsman, departementshoof van die CP afdeling verduidelik.

“Met die samewerking van ‘n onderwyser van Brakpan Primary, Chriska Eberson, het ons 15 van ons leerders in die CP-fase vir ‘n besoek aan Brakpan Primary geneem.

“Die leerders het mekaar beter leer ken en na afloop van die besoek het die leerders van Brakpan Primary vir ons ongeveer R10 000 ingesamel”.

Met dié fondse in ons sak het die beheerliggaam van Felicitas die groen lig gegee vir die projek om ‘n werklikheid te word.

’n Sementblad is deur die skool se eie grondpersoneel gelê en die speelgrond toerusting is deur Tharad Engineering Works gemaak.

“Die toerusting is versterk met opritte en ekstra staalpype om die veiligheid van die leerders te verseker,” het Zietsman verduidelik.

Lihle Sekhupela was een van die leerders wat Vrydag baie opgewonde was om die rolstoelvriendelike swaai op die proef te stel.

Sy het groot lof vir Hennie Goosen en Gerard Beukes van Tharad Engineering Works, wat volgens haar die ekstra myl gestap het om die apparaat rolstoel vriendelik en veilig te maak.

Vrydag is die rondomtalie en swaaie amptelik in gebruik geneem maar daar word nog fondse bymekaar gemaak vir ‘n ingeboude rolstoelvriendelike sandput, ingeboude rolstoelvriendelike tafels, waarby leerders kan sit en tuinmaak asook ‘n rolstoelvriendelike wipplank.

Volgens Zietsman bied die speelgrond vir die CP-leerders die geleentheid om hulself op speelapparaat te geniet.

“Gewone swaaie en rondomtalies is nie geskik vir die spesiale behoeftes van ons CP-leerders nie.”

Die apparaat is so gemaak dat ‘n leerder met enige rolstoel, elektries of gewoon, asook “buggies” (vir leerders wat meer ondersteuning vereis) veilig op die apparaat kan gaan en dit geniet.

“Die apparaat is van veilige sterk staal gemaak, met opritte wat op en afslaan sodat leerders tot binne in die apparaat met hul rolstoele kan beweeg en veilig toegemaak word,” het Zietsman gesê.

“Leerders wat nog nooit in hulle lewe op swaaie en rondomtalies gegaan het nie kry nou die geleentheid en dit bevorder ook hulle selfvertroue en sosiale vaardighede.”

Die hoof van die Felicitas Skool, Daleen Visser, het Vrydag die rolstoelvriendelike speelgrond, met sy helder kleure amptelik geopen.

Die sukses van die projek was dadelik te bespeur.

Leerders het uitgelate gelag en dit was duidelik dat die rondomtalie en swaaie in die toekoms nog vir baie ure se genot sal sorg.

Die CP departement se personeel naamlik Susan van der Merwe, Judith Price, Trudy van Niekerk, Chrisma Winterboer en Sue-Marie Geldenhuys, onder leiding van Hanli Zietsman, beoog om volgende jaar, gedurende Maart, weer volstoom aan die fondsinsameling projek te werk.

“Ons gaan weer skole besoek en kyk of ons nog meer aansteek speldjies kan verkoop sodat die volgende fase van ons speelgrond ook ‘n werklikheid kan word,” het Zietsman gesê.

Skole of besighede wat betrokke wil raak kan Felicitas Skool by 011 81 4142 skakel.

Die hoof van Felicitas Skool Daleen Visser het Vrydag die rolstoelvriendelike speelgrond amptelik geopen.

Lees ook: Felicitas leerders leer skaak speel

Felicitas Skool steun Outisme Bewustheidsmaand

Hirsch’s Celebrates Arbor Week with Felicitas School

Follow us:

Instagram
Twitter
Facebook

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button