Editor's noteLocal newsNews

In die Kollig: Leer vir Rudi Botha ken

Rudi Botha (31) is die stigter van die Godly Season Ministries Care groep (GSM Care).

Rudi is getroud met Ilze en die egpaar, wat in Brakpan-sentraal woon, het ’n seun, Elrue (7).

Jy het die GSM Care groep op die been gebring. Vertel meer van die groep.

GSM Care bestaan uit ’n groep mense vol passie en liefde en ons doel is om te dien. Ons is tans betrokke by, onder andere, anti-boelie tonele by skole, voedingsprojekte, die verspreiding van klere vir minderbevoorregtes, ’n huis vir bejaardes en ’n huis vir gestremdes.

Watter projek of uitreiking het tot dusvêr vir jou die meeste uitgestaan?

Dit is onmoontlik om een uitreiking uit te sonder. Daar is deurlopend getuienisse van mense se lewens wat verander het.

Uit die aard van julle uitreiking sien jy seker dat daar groot nood in ons gemeenskap is. Wat is, volgens jou mening, die grootste probleem?

Dwelms, armoede en hongersnood speel ’n groot rol en ons sien dit al hoe meer.

Is jy in ’n vaste beroep en wat doen jy?

Ja, ek is die voltydse presiderende pastoor by Godly Season Ministries en ek is ook ’n motiveringspreker.

Wat doen jy graag in jou vrye tyd?

Die woorde “vrye tyd” is nie altyd in my woordeskat nie maar indien ek ’n tydjie het, lees ek graag.

Waar sien jy jouself oor 10 jaar van nou?

Ek glo in 10 jaar se tyd sal ons ’n rehabilitasie-sentrum vir dwelmverslaafdes hê, asook ’n huis van veiligheid vir vroue en kinders. Daarby is die visie dat ons No-hunger projek 50 000 etes per maand sal kan voorsien.

Jy moet ’n dag saam met vyf mense deurbring om hul beter te leer ken. Wie sou dit wees en hoekom?

John C Maxwell vir leierskapsontwikkeling, Zig Ziglar vir wysheid en insig, Nick Vujicic vir inspirasie en fokus, Denzel Washington vir lewenswysheid en Andres Bassoni vir volle lewenskapasiteit.

Na watter tipe musiek luister jy graag?

Christelike musiek en jazz.

Watter talent wens jy het jy gehad?

Om ’n goeie skrywer te wees.

Hoe voel jy oor sosiale media en die invloed daarvan op die samelewing?

Ek glo dat sosiale media ’n positiewe sowel as ’n negatiewe invloed op ons gemeenskap het. Dit is ’n baie gemaklike manier om massas te bereik en te inspireer. Terselfdertyd het dit ’n direkte effek op verhoudings en veroorsaak wankommunikasie.

Wat is jou gunsteling gereg?

Vir ’n bord kerrie-garnale sal ek nooit nee sê nie.

Is daar iets wat jy glad nie eet nie?

Ek is nie gaande oor roerbraai nie.

Beskryf jouself in vyf woorde.

Passievol, hardwerkend, gedrewe, toegewyd en ’n gewer.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button