Editor's choiceLocal newsNews

VIDEO: Groot uitdaging wag op dié twee

Natalie (11) en Evan (12) Krause se ouers, Mariette en Deon, is saam met hul kinders baie opgewonde oor die vooruitsig en uitdaging wat wag.

’n Reuse uitdaging wag op twee jong modelle van die dorp wanneer hulle Suid-Afrika volgende jaar tydens die Little and Teen Glam International 2019 kompetisie gaan verteenwoordig.

Die kompetisie vind vanaf 22 tot 27 Januarie in die Filippyne plaas en alhoewel daar nog heelwat water in die see moet loop voor die groot uitdaging, is die boetie en sussie se voorbereiding reeds in volle swang.

Volgens Mariette sal verteenwoordigers van lande van regoor die wêreld aan die kompetisie deelneem.

Evan sal deelneem vir die titel van Junior Mister Glam International 2019 en Natalie sal in die Little Miss Glam International 2019 haar beste voetjie voorsit.

Evan is reg vir die groot uitdaging wat voorlé.

“Deelnemers word beoordeel op onder andere aanddrag, ’n nasionale uitrusting en talle onderhoude sal ook met hulle gevoer word,” het Mariette verduidelik.

“Die deelnemers sal oor die paar dae, waaroor die kompetisie strek, op verskillende uitstappies gaan. Hulle sal dan deurentyd beoordeel word ten opsigte van hul persoonlikhede en ook na aanleiding van hul optrede teenoor ander deelnemers,” het Mariette verduidelik.

Die boetie en sussie is geen onbekendes in die modelwêreld nie en het beide al hordes titels verower.

Natalie het met modelwerk begin toe sy maar drie jaar oud was en kan meer as 300 titels agter haar naam skryf.

“Die gogga het Evan gebyt toe hy sewe jaar oud was maar hy neem nie meer so baie aan kompetisies deel nie, vanweë die feit dat daar kinders is wat hom boelie of spot,” het Mariette gesê.

Volgens haar is die kinders se sukses toe te skryf aan Valerie Begbie, van Vogue Catwalk Models SA en hulle pa wat Vogue Catwalk Models East Rand besit.

Lees ook: Mooi matrikulant raap gesogte titel op

“Deon kies die kinders se klere vir kompetisies en sorg dat die nodige verstellings gedoen word. Hy werk ook hul roetines vir kompetisies uit. Basies doen hy alles sovêr dit die modelwerk betref en daarvoor is ek maar te dankbaar aangesien ek as boekhouer nie tyd kry om by alles uit te kom nie,” het Mariette gesê.

Volgens haar is alles ook nie altyd maanskyn en rose nie.

“Dit was ’n baie lang en moeilike pad om ons kinders te kry waar hulle vandag is.

“Dit kos baie geld, uithouvermoë, asook ongelooflike harde werk en oefening.

“Modelwerk gaan nie net oor ’n mooi gesig, soos die algemene persepsie is nie.

“Deelnemers moet hul woord kan staan tydens onderhoude, hulle moet liefdadigheidswerk doen en die belangrikste van alles is dat hulle nederig moet bly,” het Mariette gesê.

“Ons kinders, soos ander modelle wat hul sout werd is, is gedurig besig om terug te ploeg in die gemeenskap.”

Sy verduidelik dat Natalie op Mandela Dag, wat verlede Woensdag gevier is, 100 worsbroodjies gaan uitdeel het aan minderbevoorregte persone in die dorp. Die mooi blondekoppie het ook 51 komberse aan die Brakpan DBV geskenk.

Voorts het sy ook geskenke gaan uitdeel vir vroeggebore babas in die Kangaroo-saal van die Verre Oosrandse Hospitaal en aan die ma’s van die babas het sy kolwyntjies oorhandig.

“Natalie het ook gesorg dat ’n hawelose man, wat in die Dalview omgewing rondswerf, ’n matras, kombers, kos en klere ontvang.

Oor die liefdadigheidswerk wat sy verrig gesels Natalie graag.

“Dit is vir my lekker om ander mense te help. Modelwerk leer jou nie net om mooi te wees nie maar ook om terug te gee aan die mense wat sukkel of swaarkry,” het sy gesê.

Haar ma vertel dat Natalie, ten spyte van haar sterk persoonlikheid en deursettingsvermoë, ’n baie sagte hart het.

“Wanneer sy ’n kompetisie wen en ’n ander deelnemer, wat nie plek gekry het, sien huil, sal sy nie huiwer om haar kroon af te haal en aan daardie deelnemer te oorhandig nie.”

“Sy word in die modebedryf geken as die dogtertjie met die goue hart,” het Mariette gesê.

Harde werk lê vir die gesin voor vir die volgende paar maande. Baie uitrustings moet gemaak word en baie reëlings moet getref word.

“Maar ons sien baie uit na die uitdaging en ek glo en vertrou dat my twee kinders daardie twee titels aan terugbring Suid-Afrika toe,” het Mariette gesê.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button