In die kollig: Leer vir Diwan van Emmenes ken
Laerskool Dalview se hoofseun is aangewys as Dalwer van die Jaar.
Diwan van Emmenes, vanjaar se onder hoofseun van die Laerskool Dalview, is tydens die skool se onlangse prysuitdeling as Dalwer van die jaar aangewys. Hy woon saam met sy ouers, Etienne en Michelle, en sy tweeling boetie en sussie, Aldo en Anika (11), in Dalpark Proper.
Lees ook: Blinknuwe leiers by Laerskool Dalview
• Jy is tydens die Laerskool Dalview se jaarlikse prysuitdeling aangewys as die Dalwer van die jaar. Wat beteken die toekenning vir jou?
Dit is vir my ’n groot voorreg om hierdie toekenning te kon kry na sewe jaar se harde werk. Ek voel geëerd dat die skool my gekies het vir hierdie groot toekenning. Ek is ’n trotse Dalwer.
• Watter ander toekennings het jy tydens die prysuitdeling ontvang?
Sportmanskap, sewes speler van die jaar, senior sportseun van die jaar, lourier toekenning vir akademie en erekleure vir sport.
• Wat is jou gunsteling sportsoort en waarom?
Dis moeilik om te kies tussen rugby, krieket en tennis maar as ek een moet kies is dit krieket, omdat dié sport tot op ’n hoë ouderdom beoefen kan word en omrede fisiese grootte nie ’n groot faktor is nie.
• Jy het die toekenning vir sportmanskap ontvang. Is dit vir jou belangrik dat daar goeie sportmanskap onder deelnemers is en waarom?
Ja, dit is vir my belangrik. Ons beoefen sport omdat dit vir ons lekker is. Dit leer ons om in span verband saam te werk maar om dit ook saam te geniet. Met ’n goeie gesindheid gaan dit nie altyd oor wen of verloor nie, maar eerder oor die genot daarvan.
• Sien jy jouself as ’n leier op die sportveld?
Ja, ek glo so.
• Wat maak ’n goeie leier op die sportveld?
’n Goeie leier is iemand wat ’n span kan lei, motiveer en goeie besluite kan neem.
• Wat was vir jou die hoogtepunt van 2018?
Die hoogtepunt was toe ek vir die Valke sewes rugbyspan gekies word en die geleentheid gehad het om op Ellispark te kon rugby speel.
• Wie is jou gunsteling sportman of -vrou en waarom?
Kevin Anderson. Ek het sy deursettingsvermoë in die eindstryd van Wimbledon bewonder.
• Hoe balanseer jy akademie en sport?
My sport neem baie tyd op en daarom moet ek fokus in die klas en seker maak ek sit ook genoeg akademie-tyd by die huis in.
• Wat doen jy om te ontspan?
Ek speel graag buite met my broer, speel TV-speletjies en ek is ook vreeslik lief om sport op TV te kyk.
• Wat gaan jy hierdie komende vakansie doen?
Ons gesin gaan vir n paar weke in Marloth Park kuier.
• Wat is jou gunsteling kos?
Ribbetjie en skyfies, en braaivleis.
• Van watter kos hou jy glad nie?
Ek is nie baie lief vir groente nie.
• Na watter hoërskool gaan jy in 2019?
Helpmekaar Kollege.
Volg ons:
For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs Advertiser, Boksburg Advertiser, Benoni City Times, African Reporter



