The Perfect Blendship bring Kersmusiek met gevoel dié November
The Perfect Blendship gaan die gehoor meer bied as net ’n middag van uitsonderlike musiek; daar sal ook ‘n geleentheid wees om ‘n verskil in kinders se lewens te maak.
The Perfect Blendship, met bariton Douwe Bijkersma en mezzosopraan Lanie Coetzer, betree op 28 November die verhoog by AfriForum Teater om ’n besondere Kersbelewenis te bied.
Lanie Coetzer is ’n jarelange inwoner van Brakpan.
Dié duo beloof om saam met professionele gaskunstenaars en twee uitnemende kore ’n betowerende ervaring vir jonk en oud te bied.
Die Kersgevoel strek egter met hierdie vertoning veel verder as net musiek.
The Perfect Blendship bied ook aan elke gehoorlid die geleentheid om deel te neem aan hul “Koevertjie vir ’n kind”-inisiatief ten bate van die President Kruger Kinderhuis.
Die inisiatief behels dat mense ’n kontantbydrae kan lewer waarmee ’n “Krismiskous” op die konsertdag gevul sal word.
ALSO READ: Swierige Brakpan matrikulante daag in styl op by hul afskeidfunksies
“Hierdie bydrae sal ’n reuseverskil in kinders se lewens maak hierdie Kersseisoen,” het Lanie gesê.
AfriForum Teater skop die projek af deur self die eerste 10 koevertjies in die “Krismiskous” te gooi. Die teater daag ook ander teaters, kultuurinstellings, organisasies en ondernemings uit om aan dié inisiatief deel te neem.
“Die verhoog behoort nie net ’n plek te wees waar ons kultuur vier nie, maar ook ’n plek vanwaar ons na ons gemeenskap uitreik.
“Met hierdie projek wil ons die Kersgevoel omskep in iets tasbaars, ’n gebaar wat ’n kind laat weet dat daar aan hom of haar gedink word,” sê Salet Smith, bestuurder van AfriForum Teater.
“Kersfees saam met The Perfect Blendship is dus meer as ’n middag van uitsonderlike musiek,” het Lanie bygevoeg.
“Dit is ’n uitnodiging om saam te sing, saam te vier én saam te gee.”
Die vertoning vind op 28 November om 15:00 by AfriForum Teater plaas. Kaartjies is beskikbaar by www.afriforumteater.co.za
ALSO READ: Oulike kleuterfoto in Brakpan Herald sorg vir ’n spesiale terugblik op matriekafskeiddag



