Editor's noteLocal newsNews

Tiener wat deur hek beseer is mis ma se troue

’n 14-Jarige tiener van Brenthurst is Vrydagaand per helikopter na die Netcare Unie Hospitaal in Alberton vervoer nadat sy deur ’n hek by haar ouerhuis vasgepen is.

Daar het aanvanklik groot kommer geheers oor die aard van Meghan-lee Labuschagne se beserings aangesien sy na die voorval geen gevoel in haar bene, voete en hande gehad het nie en ook erge ongemak verduur het.

Sy is egter gister (Dinsdag), na deeglike toetse, uit die hospitaal ontslaan en sterk nou verder by die huis aan.

Die voorval het Vrydagmiddag laat plaasgevind toe Meghan-lee en haar sussie, Destiny (ook 14), deur ’n vriendin van hul ma, Natheley Coetzee, by hul huis in Olimpiaweg afgelaai is.

Natheley, wat Saterdag getrou het, was besig om by ’n saal in die dorp die finale afronding vir haar huweliksonthaal te doen.

“Meghan-lee en Destiny het ’n atletiekbyeenkoms van Hoërskool Die Anker bygewoon en het as gevolg van die reën vroeër huistoe gekom.

“Omdat ek besig was by die onthaallokaal het my vriendin die kinders na my huis geneem,” het Natheley vertel.

Wat daarna gebeur het, het die gesin se naweek in ’n nagmerrie laat ontaard.

“Die kinders het in die huis gegaan en toe my vriendin sien dat die gemotoriseerde hek nie heeltemal toegeskuif het nie het sy toeter geblaas.

“Meghan-lee en Destiny het die hek probeer toeskuif maar gesukkel en op ’n stadium het Meghan-lee in die klein opening, wat daar was, gaan staan en aan die hek getrek.

“Dit het skielik begin skuif en vir Meghan-lee, wat half gehurk was, vasgedruk,” het Natheley vertel.

Lees ook: Vrou vertel van hel toe kokende waks op haar hand beland

“My vriendin het het alles probeer om die hek weer oop te kry en na ’n groot gesukkel kon Meghan-lee bevry word en is sy in die huis geneem.”

Benoude en angsvolle oomblikke het hierna gevolg.

“My vriendin het na die saal, waar ek besig was, gery en vir my kom vertel wat gebeur het.

“Toe ek die huis bel om met Meghan-lee te praat (my vriendin het intussen terug gery daarheen) het ek gehoor dat Meghan-lee geen gevoel in haar bene, voete of hande het nie.”

Natheley het na haar huis gejaag en ook Meghan-lee se pa, Marcell, gekontak.

’n Ambulans en paramedici is ontbied en nadat die tiener, wat toe gesukkel het om asem te haal en groot ongemak verduur het, deeglik ondersoek is, is daar ’n besluit geneem om haar na die Netcare Unie Hospitaal in Alberton te vervoer.

Die helikopter het op die terrein van Hoërskool Die Anker geland.

Meghan-lee het oor die naweek ’n MRI-skandering asook ander toetse ondergaan, wat daarop gedui het dat daar geen permanente skade aangerig is nie.

“Saterdag was vir my ’n bittersoet dag. Meghan-lee het baie uitgesien na my troue en dit was natuurlik vir my baie belangrik dat sy deel van my spesiale dag sou wees,” het Natheley gesê.

“Ons kon nie die reëlings verander nie en het voortgegaan met die huwelik en onthaal met die wete dat haar pa haar sou besoek het.

“Ons het versoek dat ons pastoor Saterdag in die kerk vir haar ’n gebed gedoen het voordat ons die huweliksregister geteken het,” het Natheley gesê.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button