In die kollig: Leer vir Chanté Viljoen ken
Chanté Viljoen van die Laerskool Môrewag is in die kollig die week.
Chanté Viljoen (12) is die Laerskool Môrewag se hoofdogter vir 2019. Sy woon saam met haar ouers, Deon en Brenda, in Brenthurst en het ’n suster Elishé Wagener (30), en drie broers, Brandon (27), Jason (24) en Jarred (16).
• Jy is vanjaar die hoofdogter van die Laerskool Môrewag. Het jy gedink jy sou die hoofleier word?
Nee, ek het nooit gedink ek sou die hoofleier word nie maar ek is baie dankbaar vir die vertroue wat in my gestel is.
• Wat is jou pligte as hoofdogter van die skool?
Om te delegeer aan ander leerlingraadslede sodat almal hul pligte kan nakom. Ek moet ook luister as ander leerders na my toe kom met ’n probleem.
• Watter vak is vir jou die lekkerste en hoekom?
Kuns en kultuur is vir my baie lekker. Ons leer hoe om instrumente te maak en dan ons eie musiek te maak. Ek hou ook baie van wiskunde.
• Watter vak sal jy liewer ’n mis gee as jy kan?
Beslis sosiale wetenskap.
• Beoefen jy sport by die skool en dink jy dit is belangrik dat kinders aan sport deelneem?
Ja, ek doen atletiek, netbal, hokkie, landloop en tweekamp. Ja, ek dink dit is belangrik vir kinders om aan sport deel te neem want dit leer jou om gedissiplineerd te wees.
• Dink jy daar is hoop vir die jong mense van hierdie land?
Ja, ek dink so, jy moet net baie hard leer en werk om jou drome te kan bewaarheid.
• As jy een wens het, wat bewaarheid sou kon word, wat sou dit wees?
Dat daar geen diskriminasie en mishandeling in ons land moet wees nie.
• Het jy al besluit wat jy eendag wil word?
Ja, ek wil graag ’n sport fisioterapeut of ’n sportsbestuurder word.
• Dink jy sosiale media is ’n goeie of ’n slegte ding?
Dit kan goed of sleg wees, dit hang maar net af hoe jy dit hanteer en gebruik.
• Watter raad sou jy vir die ander leerders in die skool gee, wat graag in jou skoene sal wil staan om ook hoofdogter te word?
Wees net jouself en gee altyd jou beste. Jy moet ook ander kinders en die onderwysers respekteer.
• Wat doen jy graag in jou vrye tyd?
Ek swem, kyk televisie, oefen en spandeer graag tyd saam met my suster se twee kinders.
Lees ook: Laerskool Môrewag se slimstes word aangewys
Volg ons:
For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs Advertiser, Boksburg Advertiser, Benoni City Times, African Reporter



