Weggooi goed maak stortingsterrein se ingang mooi
Die resultaat is ’n aangename verrassing, wat die oog onmiddellik tref wanneer jy by die hek inry.
’n Besoek aan ’n stortingsterrein is oor die algemeen nie ’n aangename ondervinding nie.
Dit gaan gewoonlik gepaard met slegte reuke, onooglike vullis en rommel.
Dié prentjie verander egter heeltemal wanneer inwoners van die Brenthurst mini-stortingsterrein gebruik maak.
’n Groepie toegewyde werkers het dit op hulself geneem om die ingang van die plek te verfraai; met niks anders as ander mense se weggooi goed nie.
Werknemers van Bambanani Trading, die maatskappy wat die stortingsterrein bedryf, het in Desember met hul mooimaakproses begin en die resultate laat besoekers aan die stortingsterrein gou na hul selfone gryp om foto’s te neem.
“Metse Lopobo (37) wat sedert 2010 by die stortingsterrein werk vertel dat hulle deur hul werkgewer aangespoor is om die ingang mooi te maak.
“Ons het in Desember begin en ons gebruik net goed wat mense daagliks weggooi,” het Lopobo verduidelik.
Die werknemers se kreatiwiteit is inderdaad prysenswaardig.
Lees: Opgradering van park is nie ’n goeie plan
“Ons vat maar plante, ornamente wat nog mooi is, skilderye, spieëls, tafels en ander goed wat kan werk om ons plek se ingang mooi te maak,” het Katlego Shaiy (28) gesê. Shaiy het vanjaar by die stortingsterrein begin werk.
Richard Mabase (68), wat ’n bekende gesig is en sedert 2010 daar werksaam is, is ook trots op hulle handewerk.
Hy vertel dat mense gereeld foto’s neem.
“Dit is vir ons lekker om te sien die mense hou van dit wat ons doen,” het hy gesê.
Jabulani Mkhize (39), wat verlede jaar by die stortingsterrein begin werk het vertel dat dit hulle trots is.
“Dit gebeur partykeer dat iemand iets steel maar darem nie te gereeld nie. Gelukkig gooi mense altyd goed weg, wat ons kan gebruik,” het hy gesê.
Die vier is dit eens dat hulle nie gaan ophou met die projek nie.
“Daar is nog ’n lang strook wat ons moet vol pak met mooi goed en ons wil dit graag doen,” het Metse gesê.
Manie Deetlefs, ’n inwoner van Brenthurst wat onlangs vullis na die terrein geneem het, het gesê dat hy die mooi ingang al voorheen opgemerk het en dat hy baie beïndruk is.
“Die mense wat daarvoor verantwoordelik is verdien regtig ’n pluimpie,” het hy gesê
’n Besoek aan die mini-stortingsterrein in Minnebron het aan die lig gebring dat daar ook gepoog word om die plek te verfraai maar die entoesiastiese werknemers van die Brenthurst stortingsterrein loop op die stadium loshande voor met hul kreatiwiteit.
Lees ook: Buurtwaglede ontvang opleiding
Volg ons:
For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs Advertiser, Boksburg Advertiser, Benoni City Times, African Reporter



