Local newsNews

In die Kollig: Leer vir Antoinette van Zyl ken

Leer die mense in ons dorp ken.

Antoinette van Zyl (58) is die eienaar van die Honkie Ponkie Opvoedkundige Leersentrum, wat vanjaar sy 30ste bestaansjaar vier. Sy is getroud met Gert (57) en die egpaar wat in Brakpan-sentraal woon het twee kinders, Lindie (30) en Jaco (23).

Die kleuterskool het 30 jaar gelede sy ontstaan gehad. Hoe het dit begin?

Ek het met vier kinders ‘n speelgroepie begin en na my dogter in dieselfde jaar gebore is, ook met ‘n moeder- en kind groepie. Die mammas het saam met hul kleuters die speelgroep bygewoon en saam met hul kind die aktiwiteite gedoen. Ek het ook ‘n musiek- en beweging groep gehad en ons mammas en kleintjies het ‘n musiek juffrou gehad wat vir ons die klas aangebied het.                                                                                                                                                      Ek het in daardie tyd ook nog verder, in kleuteronderwys aan Unisa studeer. Ek het reeds my Onderwys Diploma verwerf aan die Onderwys Kollege Potchefstroom, skool gehou en toe besluit om verder te studeer. Met dié het ek my eie kind gehad en ek wou net die beste vir haar hê, het ek besluit om die speelgroep te begin vir haar en om terselfdertyd my kennis te deel met ander ouers. Ook om my passie te begin uitleef om peuters en kleuters toe te rus met die nodige vaardighede om hulle voor te berei en om hul fondasie te vestig vir leer en om hul voor te berei tot skoolgereedheid.                                                                                                                                                                                  Voor ek die speelgroep begin het, het ek skool gehou by Laerskool Harmonie, Hoërskool Hoogland en die Benoni Tegniese Kollege Ek het ook opleiding vir ‘n skoonheidshuis se konsultante gedoen om die produkte te verkoop en ook het ek die skoonheidshuis se bemarkings promosies gedoen. Na al hierdie ervarings en ondervinding het ek besluit om die speelgroep te begin en wat verder ontwikkel het in ‘n kleuterskool.

Met hoeveel kinders het jy begin?

In die speelgroepie het ek begin met net vier kindertjies maar die moeder- en kleutergroep het gesorg dat my speelgroep gou meer maatjies bygekry het en ek het vinnig gegroei tot 15 kleuters.

Kan jy die eerste dag onthou?

Ek kan nie presies onthou hoe ek die dag ingerig het nie, maar ek kan wel my eerste bekendstellingsvergadering onthou. Ek het net klaar my eerste klaskamer opgerig en ’n advertensie in die Brakpan Herald geplaas om mense bewus te maak van die speelgroep.

Indien jy die horlosie kon terug draai, sal jy dit weer kon doen of sal jy heeltemal iets anders aanpak?

Ek sal presies dieselfde doen en aanpak. Soos elke werk het dit sy voordele en nadele. Ek kon my twee kinders by my hê terwyl ek werk. Ek kon hulle self bekendstel aan opvoedkundige speelgoed en self met hulle werk. Om ’n kleuterskooljuffrou of -hoof te wees, beoefen jy verskeie beroepe, alles in een en jy kan jouself uitleef. Jy is nie net juffrou nie, maar ook ’n sielkundige, ’n geleentheidsbeplanner, ’n bemarker, jy doen admin, jy is ’n verpleegster, jy beplan en rig konserte af, jy is ’n juffrou en nog vele meer gebeur in ’n dag wat jou dag vol maak. Nie een dag is dieselfde nie. Jy leef jou ook in die klas uit op verskeie gebiede en aan die einde van die dag het jy jou hele menswees gegee en ontwikkel.

Om vir 30 jaar met kleintjies te werk is seker uitdagend. Hoe het jy staande gebly?

Ek het staande gebly deur die Here wat nog altyd in beheer was en is van die skool. Goeie tye en in die storm tye. Ons leer ook ons kleintjies dat God is die koning en heerser van die kleuterskool en ons as personeel is God se werkers by die skool. My gesin se vertroue in my en hul ondersteuning en aanmoediging. In die 30 jaar van Honkie Ponkie se bestaan het ek fantastiese personeel gehad wat saam met my gewerk het en gesorg het dat ons kleintjies net die beste opvoedkundige program en stimulering kry om sodoende die nodige vaardighede te ontwikkel. Al die personeel wat in die 30 jaar by Honkie Ponkie werksaam was, het tussen vier en 17 jaar by Honkie Ponkie gewerk. Was dit nie vir uitstekende personeel, wat al die jare saam met my gewerk en my passie gedeel het nie, sou Honkie Ponkie nie die hoogtes bereik het, wat ons wel bereik het nie.

Is vandag se kinders anders as dié van 30 jaar gelede?

In seker opsigte, ja. Die kinders word van baie vroeg af blootgestel aan tegnologie en alle moderne hulpmiddles wat aan die jong ouers bekendgestel word om te help met verskeie ontwikkelings aspekte, wat eintlik skade berokken aan die ontwikkeling van vaardighede wat noodsaaklik is vir die vordering van leer. Kinders weet nie meer hoe om hulself te vermaak nie, daar moet die heeltyd iets vir hul aangebied word om hulle te vermaak. Kinders kan nie meer altyd geduldig wag vir ‘n oplossing van ‘n probleem nie, die oplossing moet onmiddelik wees en sonder moeite. Kleuters speel nie meer vandag so baie buite nie, as gevolg van verskeie redes en omstandighede. Hulle is minder aktief. Daar word so baie oulike inligting vir kinders deurgegee op televisie of op ander tegnologiese terreine, wat kleuters al van klein tyd interesseer, maar dit vereis geen beweging nie. Beweging is uiters noodsaaklik vir kinders se leer vermoë. Omdat kleuters nie meer soveel geleenthede gegun word om te beweeg nie, steek daar soveel leer probleme kop uit, wat andersins nie sou gebeur het as kinders genoeg beweeg en gespeel het nie. Kinders van vandag het nie meer die vermoë om dit groter prentjie te sien en om insig te toon in situasies nie. Ouers mors hulle geld op allerhande duur hulpmiddels en speelgoed te koop op ‘n jong ouderdom terwyl die kleintjies nog klein is. Eenvoudige speelgoed in en om die huis kan soveel leer moontlikhede vir kleintjies skep en lei tot ongelooflike ontwikkeling van kreatiwiteit en oplossing van probleme. Die speelgoed in en om die huis het ontelbare voordele wat die kleuter later sal help om ander vaardighede baas te raak. Die gekoopte opvoedkundige hulpmiddels kan tot aanvullende aktiwiteite lei. Hierdie vraag kan lei tot ‘n baie groter bespreking waarvoor daar nie nou plek is nie, maar daar is definitief ‘n verandering in vandag se kinders as ‘n paar jaar gelede.

Het jy planne om so bietjie rem aan te draai?

Ek het in die helfte van 2017 so bietjie van my verpligtinge afgeskaal en het twee bestuurshoofde aangestel om my te help met van die verpligtinge by die kleuterskool, naamlik ’n bestuurshoof, administrasie, en bestuurshoof, projekte. Dit het my baie gehelp. As ek wel by die punt gaan kom waar ek moet rem aan draai, sal dit deur omstandighede bepaal word wat buite my beheer sal wees en wanneer dit sal wees weet ek nie. Dus pak ons nog 2019 volstoom aan en fokus ons op elke kleuter en sy ontwikkeling as totaliteit.

Die dorp is vanjaar 100 jaar oud. Wat vind jy uniek van die dorp?

Hierdie is ‘n moeilike vraag in vandag se tyd en met al die veranderinge wat al plaasgevind het. Wat vir my uniek en gerieflik is van ons dorp, dat alles binne jou bereik is, daarmee bedoel ek jy hoef nie ver te ry na besighede of instansies waar ek wil besigheid doen of besoek nie. Brakpan is soos die sirkel van al die omliggende Oos-Rand dorpe. Selfs ons eie besighede in Brakpan en entrepreneurs is binne jou bereik en met die Brakpan groep op Facebook, is almal altyd bereid om te help of jou te verwys na iemand wat wel kan help. Die sekuriteitsgroepe- en maatskappye se bystand en om altyd te help in nood, is ook vir my uniek van Brakpan. Brakpan het sy eie tradisies soos die Felicitas kermis wat elke jaar plaasvind. Die gemeenskap ondersteun hul kermis, die kerke se kermis, en die skole se revue. Die feesvieringe wat nou gereël word om Brakpan se 100ste bestaansjaar te vier word deur ‘n jonger generasie gereël en hulle is trots en tradisie vas. Ons is nog soos ‘n plaas dorp teen die ander dorpe wat ook al met die tyd verder ontwikkel het. Hier stap jy nog in die apteek in en die aptekers ken klaar jou skete en jou naam voor jy nog amper kan vertel watter skeet jy nou weer het. Ons dokters ken hul pasiënte by hul naam en almal raak soos ‘n familie. By die kerke is dit dieselfde. Skole en kerke is die samekoms van die gemeenskap van Brakpan.

Wat doen jy om te ontspan?

Ek hou daarvan om ‘n goeie fliek te kyk of om ‘n goeie reeks te kyk wat my boei en wat my gedagtes kan afskakel en my laat vergeet van werk. Ek moet my so in leef in die reeks en saam met die karakters leef en in hulle wéreld, dan ontspan ek. Ook het ek dit reg gekry om die laaste jaar so nou en dan ‘n “pajama”-dag te hé. Nooit gedink dit sal met my gebeur nie, maar weereens raak ek so besig en voor ek my kan kry dan is die oggend al verby. Dit is ook vir my lekker om saam met my man en kinders te braai.

Het jy ’n rolmodel en wie is dit?

Ek het ’n hele paar rolmodelle en by elkeen het ek iets geleer wat ek nastreef. Dit sal onregverdig wees om net een persoon uit te sonder, want daar is by elkeen soveel eienskappe wat ek graag in my eie lewe wil toepas. Ek sou graag elke persoon wou beskryf en genoem het watter eienskappe vir my uitstaan en wat ek van elkeen van hul geleer het. Ek gaan net ’n paar van my rolmodelle noem: Winnie Marx, juffrou Malan (destydse hoof van Hoërskool Stoffberg Meisies) Esther Rothman, Johan Jansen van Vuuren, my broer Dirk Theron, my ouers, my man en my twee kinders. By hierdie mense het ek al soveel geleer en hulle sal altyd my inspirasie wees. Hulle het my ook altyd aangemoedig in alles wat ek aanpak. Hul ondersteuning en bystand het my gedra en my sukses aangespoor.

 

Waar hou jy graag vakansie?

Ons het toe die kinders kleiner was daarvan gehou om te gaan kamp. Deesdae hou ek meer van ’n vakansie by die see en verkies om by Hermanus vakansie te gaan hou.

Watter seisoen verkies jy en waarom?

Ek verkies herfs en lente, want die twee seisoene is nie te warm nie en ook nie te koud nie. Ook simboliseer herfs vir my ’n tydperk om al die hartseer en seerkry van jou af te gooi en plek te maak vir nuwe idees en nuwe dinge in jou lewe. Lente simboliseer dat die nuwe dinge of drome wat jy het kan realiseer en jy kan nuut begin. Ek hou daarvan om simboliek aan baie dinge te koppel en dit van toepassing te maak op lewenswyshede of op my eie lewe.

Beskryf jouself?

Pligsgetrou, doelgerig, taakgerig, kreatief, passievol en ek het baie deursettingsvermoë.

Lees: Honkie Ponkie Kleuterskool vier sy 30ste bestaansjaar

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button