In die kollig: Leer vir Abigail Antonio ken
Abigail is die week in die kollig.
Abigail Antonio (14), ’n leerder aan Hoërskool Die Anker, is ’n kranige hengelaar wat saam met haar ouers, Luis en Mariaan, in Dalpark woon.
Lees: Anker leerder blink uit in droë hengel kampioenskap
• Hoe het jou belangstelling in visvang begin?
My pa is ’n groot hengelaar en ek het stelselmatig geleer wanneer ons op uitstappies gegaan en kampeer het. Ek was vyf jaar oud toe ek my eerste pienk viskas en “stand” gekry het.
• Hoe lank beoefen jy al die sportsoort?
Nege jaar, waarvan drie jaar kompeterend is.
• Jy het onlangs deelgeneem aan die droë proewe vir Gauteng Hengel en is gekies vir die junior o-19 span wat Gauteng by die SA Kampioenskappe gaan verteenwoordig. Verduidelik kortliks wat droë hengel is.
Droë hengel is ’n kompetisie wat bepaal hoe akkuraat en ver ’n mens kan gooi op verskillende afstande. In die junior afdeling is daar afstande van 60m en 80m gemerk. Die hengelaar moet so naby as moontlik aan die merk gooi om punte op te bou. Dan is daar ook ’n ver gooi uitgemerk om te sien hoe ver die hengelaar kan gooi. My afstande is gemiddeld tussen 90m en 105m.
• Is dit iets waarvoor ’n mens hard moet oefen?
Beslis, dit vat baie “gooie”, ’n gesnyde wysvinger, geduld en toewyding.
• Verkies jy droë hengel of om eerder vis te vang?
Verseker visvang, daar is soveel meer aksie by betrokke.
• Waar is jou gunsteling visvang plek en hoekom?
Die Wawielpark Vakansie-oord. Ons weet al presies waar daar ’n diep gat in die rivier is, waar al die groot monsters wegkruip.
• Wat is die grootste/swaarste vis wat jy al ooit gevang het?
Dit was ’n spieëlkarp van 6.5kg.
• Watter geheime het jy ten opsigte van die aas wat jy gebruik?
Die antwoord is presies wat die vraag behels. Dis ’n geheim. Daar is niemand in die wêreld wat meer geheimsinnig is as ’n hengelaar en sy of haar kombinasies nie. Al wat ek kan sê is dat die kombinasies baie afhang van weersomstandighede en water oewer.
• Hoeveel visstokke besit jy en watter een is jou gunsteling?
Ek besit agt stokke, waarvan vier van hulle 10ft (3m) is en die ander vier is 12ft (3.6m). My gunsteling is natuurlik my nuwe 12ft Sensation Velocity V2.
• Behoort jy aan ’n hengelklub?
Ek was ’n lid van Strelitzia Hengelklub vir twee jaar en moes ongelukkig onttrek as gevolg van my besige skool en buitemuurse aktiwiteite.
• Is dit ’n duur sportsoort om te beoefen?
Verseker, veral as mens jou viskas moet inrig om op liga standaard te wees. Dit behels klein donker bottels met nommers op, waarvan jy dan van ’n lys af werk. Dit werk dieselfde met jou laai vir “floaties” ook. Daar is geen name op ’n bottel in sig nie, onthou, dis ’n “geheim”.
• Vang enige van jou gesinslede ook vis?
My pa is steeds lid van Strelitzia en hengel hierdie jaar sy vierde jaar in die Gauteng-liga. Hy is tans ook een van die afrigters vir Anker Hengelspan. My ma hengel ook maar is meestal besig om my op en af te ry na my verskillende aktiwiteite.
• Het jy ander stokperdjies of belangstellings?
My stokperdjie het eintlik ontaard in my passie en dit is dans. Ek dans al van dat ek drie jaar oud is en is tans deel van Anker se revue groep vir 2019. Ek was ook ’n model gewees vir drie jaar by Vogue Catwalk Models in Brakpan, maar daar is ook net 24 ure in ’n dag en ek moes keuses maak. Ek was darem gelukkig gewees om as Mej Anker Junior gekies te word in 2018.
• Is jy ’n winter of somer mens?
Definitief ’n somer mens. Die winter pla ’n bietjie wanneer ons drie uur in die oggende moet opstaan om te gaan hengel, maar elke sport het sy opofferings.
• Wat is jou gunsteling kos?
Sjoe, dis ’n strikvraag. Daar is werklik ’n lang lys van gunstelinge, maar met die beste deel van Portugese en boere bloed in my, kry “russian en chips” beslis voorkeer.
• Wat sal jy doen met ’n miljoen?
Dis baie maklik. Ek sal in my studies belê en ’n groot deel van die geld skenk aan liefdadigheid waaronder die DBV ook ingesluit is, as gevolg van my groot liefde vir bykans enige dier.
Volg ons:
For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs Advertiser, Boksburg Advertiser, Benoni City Times, African Reporter



