In die Kollig: Leer vir Lorinda Kern ken
Leer die mense in ons dorp ken.
Lorinda Kern (47) is die eienaar van Rafiki Kleuterskool in Dalview. Sy is getroud met Hein (48) en hulle woon in Kenleaf. Haar kinders is Duo (19) en Amindie de Beer (13).
• Jy is die eienaar van Rafiki Kleuterskool. Hoe lank bestaan die kleuterskool al?
Rafiki is hierdie jaar ’n dekade oud. ’n Baie trotse 10 jaar.
• Wat het jou laat besluit om jou eie kleuterskool op die been te bring?
Ek het baie jare skool gehou by ’n voormalige TOD kleuterskool en daar het ek agterkom dat kleuteronderwys my passie is. Toe die TOD kleuterskole gesluit word het ek regtig gevoel dat daar ’n behoefte is aan ’n kleuterskool waar die regte onderwysmetodes nog gevolg word.
• Om verantwoordelikheid vir ander mense se kinders te neem is ’n reuse taak. Wat is die grootste uitdaging?
Dis ’n yslike verantwoordelikheid en my grootste uitdaging is om die ouers se vertroue te wen. Kleuterskole is dikwels in die media oor ongeruimdhede en dan skeer ouers al die kleuterskole onder dieselfde kam. Ek is ’n betrokke hoof en weet elke oomblik van die dag wat by my skool aangaan.
• Hoe beïnvloed tegnologie die opvoeding van kinders vandag?
Daar is baie positiewe punte asook negatief. Ons kinders se addisionele taalontwikkeling is verbasend as gevolg van die taal waarin die tegnologie dikwels voorkom, maar hul sosialiseringsvermoë word benadeel omdat tegnologie hul “maat” word.
• Speel vandag se kinders nog genoeg?
Definitief nie genoeg nie. By my skool probeer ons regtig nog spel aanmoedig en bevorder. Fantasie spel is veral belangrik. Ek is dankbaar dat die parke in die dorp opgekikker word sodat die kinders weer kan gaan swaai en klim en klouter.
• Watter seisoen is jou gunsteling en waarom?
Ek hou van die winter. Ek kry eerder te koud as te warm.
• Hoe lank woon jy al in Brakpan en wat vind jy uniek van die dorp?
Ek is hier gebore en getoë, dus 47 jaar al. Daar is net een dorp met soveel “Brakpan grappe”. Ek dink die mense van die dorp maak Brakpan uniek, dis omgee hartsmense.
• Wat sou jy graag omtrent die dorp wou verander?
Ons dorp kort ’n deeglike skoonmaak-sessie. Sypaadjies, tuine en ou geboue. Ek sou bitter graag ons dorp as ’n Kwela Dorp van die Jaar-finalis wou sien.
• Het jy enige stokperdjies?
Ek lees graag en verder snuffel ek graag in winkeltjies, wat vol snuisterye is, rond.
• Waar sien jy jouself oor 10 jaar?
Ek weet eerlikwaar nie. My kinders is groot en ’n mamma-hart is maar waar haar kinders is. Dus sien ek uit na wat die volgende 10 jaar vir my inhou.
• Indien jy die geleentheid kry, sou jy die land permanent verlaat?
Dit is iets waaraan ek wel dink maar of ek dit regtig sal doen, weet ek nie. Tyd sal wel leer.
• Beskryf jouself in vyf woorde.
Lojaal, ongeduldig, ruimhartig, vriendelik en positief.
Lees: In die Kollig: Leer hier vir Madelaine Pienaar ken
Het jy ‘n storie?
Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za
of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za
of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za
Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:
For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs Advertiser, Boksburg Advertiser, Benoni City Times, African Reporter



