Editor's noteLocal newsNews

Speurder wat na 30 jaar aftree sê haar werk was haar passie

Luit-kol Heidi van der Schyff lê vandag (Vrydag), na 30 jaar diens in die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die tuig neer.

Van der Schyff, wat nie veel bekendstelling nodig het nie, was vir die meerderheid van haar diensjare in Brakpan gestasioneer waar sy in die speurtak werksaam was.

Sy sê dat dit met gemengde gevoelens is dat sy uiteindelik uittree.

“My werk was my passie. Ek het dit nooit gesien as bloot net ’n werk nie. Indien dít die geval was sou ek nie my werk met oorgawe kon doen nie,” het sy gesê.

“Dit is uiters bevredigend om geregtigheid te laat geskied en ek gaan die werk wat ek vir 30 jaar gedoen het baie mis.”

Luit-kol Heidi van der Schyff.

Van der Schyff, wat in Brakpan gebore is en skool gegaan het, het na matriek haar opleiding aan die Polisie Kollege in Pretoria ondergaan.

Daarna het sy vir ses maande by die OR Tambo Lughawe (wat destyds nog die Jan Smuts Lughawe was) gewerk.

Na dié tydperk was sy vir twee jaar werksaam by die Kempton Park Distrik Kommissaris se kantoor en in 1992 het sy uiteindelik vastrapplek in Brakpan by die speurtak gekry.

Vanaf 2000 tot 2003 was sy in Tsakane gestasioneer, maar daarna is sy weer terug geplaas na Brakpan.

Sy is in 2009 tot die rang van luit-kol bevorder.

Lees: Polisievrou gaan nou voltyds ouma wees

Ondersoekwerk is iets wat sy daagliks met groot noukeurigheid en deeglikheid aangepak het.

“Wanneer ek op ’n toneel was het ek altyd gepoog om alles so perfek moontlik te doen. Dit is soos om ’n legkaart aanmekaar te sit.

“Wanneer jy die werk reg doen, bevorder jy die kanse op ’n goeie uitslag en dit is waarna ek altyd gestreef het,” het Van der Schyff gesê.

Sy moes gedurende haar loopbaan telkens grusame en ontstellende tonele bywoon, maar vertel dat sy geleer het om daarmee saam te leef.

“’n Mens moet net ’n uitlaatklep hê en in dié sin is ek gelukkig aangesien my eggenoot, luit-kol Peet van der Schyff, presies weet waaroor my werk gaan.

Lees: Jacques Vivier is in die kollig

“Dit is vir ons tweede natuur om met mekaar te gesels oor ons werk en sodoende ook stoom af te blaas,” het sy vertel.

“Ek weet dit gaan vir my ‘n baie groot aanpassing wees maar ek sien ook uit na die nuwe hoofstuk van my lewe.

“Ons eerste kleinkind, Amoré de Koker, is verlede Donderdag gebore en dit gaan lekker wees om haar te bederf.

“Ek het ook ’n plan in die pyplyn aangesien ek nie iemand is wat sommer net kan stilsit nie,” het Van der Schyff gesê.

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts  (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button