VIDEO: Brakpan skoonheid in lyn vir Mej Suid-Afrika titel
Tené Minderon is 'n finalis in die Mej Suid-Afrika kompetisie.
Brakpan inwoner, Tené Minderon (21) se besluit om vanjaar aan die Mej Suid-Afrika kompetisie deel te neem het vrugte afgewerp.
Dié skoonheid is een van 35 semi-finaliste wat Woensdagmiddag aangekondig is en sy hoop om in dieselfde skoene te stap as Rolene Strauss, wat in 2014 die Mej Wêreld titel verower het.
“Rolene Strauss het die rol van Mej Suid-Afrika verpersoonlik met haar gesofistikeerdheid, intelligensie en konstantheid en soos Rolene, is ek ook ‘n positiewe en self-gedrewe persoon,” vertel Tené.
Tené is ‘n voltydse model by Ice Models en het ook ‘n klein rol in die plaaslike sepie, Getroud met Rugby, as ‘n ‘cheerleader’ losgeslaan.
Sy het met modelwerk begin toe sy maar drie jaar oud was en het reeds sowat 80 titels agter haar naam.
Die beeldskone model is nie net ‘n mooi gesig nie, maar is ook passievol oor die omgewing en wil graag die Mej Suid-Afrika titel as ‘n platform gebruik om kwessies oor die land se riviersisteme aan te spreek.
In haar vrye tyd identifiseer sy graag verskillende soorte bome en plante deur ‘n toep (app) wat sy afgelaai het en merk dan ook sodoende nuwe spesies af, so gereeld as moontlik.
“Wanneer ek die geleentheid kry om net ‘n wegbreek van tegnologie te vat, gaan ek graag op stap roetes of na ons plaas toe om net weer die natuur te waardeer.”
Lees: Brakpan inwoner is semi-finalis in Mej Suid-Afrika kompetisie
Een ding wat min mense van die skoonheid weet is dat sy ‘n obsessie met klippe het.
“Ek het ‘n uitgebreide versameling en het selfs al betaal vir klippe wat ander mense opgetel het,” vertel sy.
Tené gee graag raad aan die jong vrouens van Suid-Afrika en glo dat ‘n vrou nooit geluk in haarself sal vind as sy haarself met ander vrouens vergelyk nie.
“Dit is maklik om, met die invloed van sosiale media, jouself af te meet oor hoe ‘n perfekte vrou moet lyk, daarom is dit belangrik dat jy besef jy is meer as genoeg.”
Die top 16 finaliste sal op 16 Julie aangekondig word en die Mej Suid-Afrika kompetisie vind plaas op Vrouedag, 9 Augustus.
Lees: Brakpan skoonheid verower gesogte titel
Het jy ‘n storie?
Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za
of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za
of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za
Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:
For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs Advertiser, Boksburg Advertiser, Benoni City Times, African Reporter











