Video: Vriendinne laat poppe na regte babas lyk
Die twee vriendinne skep saam speel-speel prag baba poppe en geniet elke oomblik daarvan.
’n Inwoner van Brakpan-Sentraal, Elize Kleynhans (55), beoefen ’n buitengewone en interessante stokperdjie waarmee sy behoorlik haar drome kan uitleef.
Elize het sowat vyf maande gelede met die stokperdjie begin eksperimenteer nadat haar sussie, Dassie Flemming, vir haar ’n baba pop as geskenk gegee het.
Sy het onmiddellik planne begin beraam oor hoe om self poppe te skep, maar aangesien dit nie ’n vyf-minuut-projek is nie, het Elize klasse begin bywoon by Little’s Nursery.
Kort daarna het Elize die skouer aan die wiel gesit en haar eie wedergebore poppe begin maak.
Die wedergebore poppe word gemaak om presies soos ’n regte baba te lyk en te voel.
Sommige poppe lyk so eg dat dit maklik as ’n regte baba aangesien kan word.
Elize se nuutgevonde stokperdjie het ook daartoe gelei dat sy ’n baie spesiale vriendin, Fransciska Kraftt (23), ontmoet het.
Dié vriendskap het gevolg nadat Elize se man, Peter, vir haar ’n pragtige baba pop by Fransciska “aangeneem” het.
Fransciska is al drie jaar in die bedryf, en volgens haar leer sy nog steeds elke dag iets nuuts.
“Die ‘reborn’ bedryf is baie ingewikkeld en mens kan nooit alles weet nie. Dit is ’n stokperdjie waar jy elke dag iets nuuts leer,” vertel Fransciska.
Die twee vriendinne skep nou saam speel-speel prag baba poppe en geniet elke oomblik daarvan.
“Om die poppe te maak is egter tydrowend en dit neem ongeveer drie weke om een pop te maak,” het Elize vertel.
“Daar word ongeveer 18 lae verf op elke pop aangewend en na elke laag verf moet die pop vir ’n paar minute gebak word,” het sy verduidelik.
Daar word ook lyne en voutjies op die pop geverf, asook ’n lagie blou verf vir die are, om dit die effek van ’n regte baba te gee.
Die stokperdjie is, volgens die twee vriendinne, beslis nie goedkoop nie en daarom word daar ’n stewige prys vir elke pop wat verkoop word, gevra.
Fransciska het byvoorbeeld ’n spesiale pop, April, waarvan daar net ’n sekere aantal beskikbaar is.
Een van hierdie spesiale poppe is reeds “aangeneem” vir R4 500.
Die poppe het verskillende nuttige doeleindes en is nie net vir klein kinders om mee te speel nie.
Sommige eienaars van wedergebore poppe gebruik dit as ’n vervanging van ’n kind wat hul eens verloor het.
Ander gebruik dit weer as ’n versamelaarsitem of as ’n geneesmiddel vir depressie en angstigheid.
Saam met elke pop wat “aangeneem” word is daar ’n naam en ’n geboorte sertifikaat, ’n stel klere, ’n kombers, asook instruksies oor hoe om die pop te versorg.
Benewens die maak van poppe, wat soos lewensgetroue babas lyk, kan die twee kreatiewe vroue ook apies, varke, honde en katte skep.

Die twee vriendinne gaan hul poppe op 5 Oktober by Taftlaan 68, Brakpan-Sentraal, uitstal vir besoekers wat graag hul handwerk wil besigtig.
Het jy ‘n storie?
Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za
of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za
of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za
Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:



