Moet nie vir dié slenter val as jou kar gesteel is
"Daar was geen rede vir my om hom te wantrou nie."

Die Brakpan SAPD het gewaarsku dat motoriste wie se voertuie gesteel is nie vir ’n nuwe slenter, wat kop uitgesteek het, moet val nie.
’n 69-Jarige inwoner van die dorp is onlangs haar motor en R3 000 kwyt nadat sy sleg ingeloop is deur ’n persoon wat homself as ’n lid van die SAPD voorgedoen het.
Die vrou se Uno is op 24 November helder oordag uit die Tweedy Park Kompleks, waar sy woon, gesteel.
Sy het ’n saak by die SAPD gaan open en twee dae daarna ’n oproep van ’n persoon, wat homself as ’n sersant voorgedoen het, ontvang.
“Die man het die saaknommer gehad en presies geweet wanneer my voertuig gesteel is en watter voertuig dit was.
“Daar was geen rede vir my om hom te wantrou nie,” het die vrou gesê.
Lees: Dief gebruik slim truuk om bejaarde se handsak te steel
Die sogenaamde polisieman het die vrou meegedeel dat haar voertuig in Komatipoort opgespoor is en ook dat daar ’n onwettige vuurwapen in die voertuig gevind is.
“Hy het verduidelik dat dit weke kan neem om die papierwerk uit te sorteer en dat my voertuig intussen geplunder kan word.
“Hy het voorgestel dat ek met sy bevelvoerder praat om iets uit te sorteer.
“’n Ander persoon het die foon geneem en bevestig dat die situasie nie goed lyk nie.
“Hy het egter gesê indien ek R2 000 oorbetaal kan hy ’n plan met die papierwerk maak.
“Ek het die R2 000 oorbetaal en daarna weer ’n oproep ontvang,” het die vrou vertel.
Dié keer is die vrou meegedeel dat alles uitgesorteer is en dat iemand haar voertuig op ’n vragmotor kan vervoer na die Brakpan Polisiestasie, maar dat ’n verdere R1 000 benodig word.
“Ek het dié geld ook gaan oorbetaal. Dit was die laaste sien van my geld en my motor is steeds weg,” het sy gesê.
Lt-kol Peet van der Schyff van die Brakpan SAPD het gesê dat die voorval deeglik ondersoek word.
Hy het ook slagoffers van motordiefstal gewaarsku om onder geen omstandighede vir dié skelmstreek te val nie.
“Die SAPD sal onder geen omstandighede geld van die publiek eis om voertuie aan hulle terug te besorg nie.
“Persone wat onraad vermoed moet nie huiwer om dit dadelik aan te meld nie,” het van der Schyff gesê.
Lees ook: Ma staan op vir baba, betrap byna inbrekers
Het jy ‘n storie?
Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za
of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za
of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za
Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:



