Kunstige kaalvoet-vrou oorlede
Sy het haar gaste verwelkom en bedien sonder skoene aan haar voete.
Die vrou wat in Brakpan bekendheid verwerf het vanweë die feit dat sy byna nooit skoene gedra het nie is Donderdag oorlede.
Sonette Coetzee (50) was welbekend vir haar kaal voete, maar ook vir die unieke meubels en ornamente wat sy basies uit ander mense se rommel geskep het.
Alhoewel sy in Middelburg gebore is, het sy die meeste jare van haar lewe in Brakpan deurgebring.
Inwoners het van haar begin kennis neem toe sy jare gelede ’n kuierplek in die dorp besit het.
LEES: Een ou se rommel is hierdie vrou se skatte
Hiér het die vriendelike vrou haar gaste verwelkom en bedien sonder skoene aan haar voete.
Dit was vir haar ’n steen des aanstoots om enige vorm van skoene te dra en selfs wanneer dit bitter koud was, was dit vir haar maar swaar om skoene te dra.
Haar oudste dogter, Shanandé Fourie (30) het die week aan die Herald gesê dat haar ma, na mate sy ouer geword het, wel skoene begin dra het.

Die Herald het ook drie jaar gelede oor Sonette se talent om pragstukke uit rommel te vervaardig, berig (‘Een ou se rommel is hierdie vrou se skatte’).
Haar unieke talent het ook gesorg dat sy tóé deel uitgemaak het van die gewilde Afrikaanse televisieprogram Skatjagter.
Sonette het ander mense se weggooi-goed versamel of aangekoop en ’n “upcycling” besigheid op die been gebring.
Sy het unieke meubelstukke, muurbehangsels, ornamente en rame geskep.
Dié kreatiewe vrou het destyds aan die Herald vertel dat sy gereeld na stortingsterreine en skrootwerwe gegaan het om te sien watter bruikbare goedere sy kon kry.
Sy het ook gereeld veilings bygewoon om materiaal vir haar skeppings te kry.
Sy het vertel dat sy altyd self die verf, wat sy sou gebruik, gemeng het en dat sy nooit daarvan gehou het om iets nuuts te koop nie.
Sy het eerder gekyk of sy nie ’n plan kon maak voordat sy ’n nuwe ding moes koop nie.
LEES: Bekende oud-onderwyser oorlede
Volgens Shanandé het haar ma die afgelope tyd met haar gesondheid gesukkel en het sy Donderdag ’n beroerte gehad.
Sy laat ook twee jonger kinders, April-Sky (11) en Ruby (9) Hilton, haar lewensmaat, William Hilton (40), en drie broers na.
Die begrafnis vind Vrydag (vandag) plaas.
Het jy ‘n storie?
Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za
of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za
of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za
Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:



