Hoërskool Stoffberg het vanjaar ’n drieling wat sorg dat hul vriende en die onderwysers dikwels mooi moet kyk om te sien wie is wie.
Die Bekker drieling is vanjaar in graad agt en is opgewonde om hul hoërskoolloopbaan aan Stoffies te voltooi.
Hulle is op 8 Julie 2008 in die Linmed Hospitaal gebore.
Kaitlin is eerste gebore, gevolg deur Amy en Lee-Ann. Elkeen het net ’n rapsie meer as ’n kilogram geweeg. Hulle woon al vir 12 jaar by hul ouma, Fransiena Vlooh, en oupa, Piet Smith, in Anzac.
“Ons het elkeen ons eie persoonlikheid, alhoewel Kaitlin die sterkste persoonlikheid het, maar ons is steeds erg na aan mekaar,” het Amy vertel.
LEES OOK:
Abygale is Hoërskool Die Anker se top matrikulant
“Ons het elkeen ons eie siening en doelwit, maar die appel val nie ver van die boom nie.”
Lee-Ann en Kaitlin wil albei onderwysers word en Amy wil in ’n wetenskaplike rigting studeer.
“Elkeen van ons het ook ons eie talente. Amy is die sportiewe een, Kaitlin vaar beter met kultuur en Lee- Ann is weer die kreatiewe een.”
Wanneer dit kom by akademie, verskil die drie ook van mekaar: Amy en Lee-Ann is goed met wiskunde en Kaitlin se sterkpunt lê in Engels.
“Ons vriendekringe is naby aan mekaar, ons is maar ‘n drie-man span en doen alles saam. Ons sit ook tydens pouses bymekaar,” het Kaitlin vertel.
Lee-Ann het gesê: “Ons geniet inkopies, veral wanneer ons klere kan koop.
“Toe ons jonger was, was ons dieselfde aangetrek, maar nou het elkeen sy eie styl.
LEES OOK:
Laerskool Môrewag verwelkom twee nuwe onderwysers
“Alhoewel ons soms nog steeds dieselfde aantrek.”
“Ons hou ook vreeslik baie van Wi-jump, fliek en vir lekker uiteet sê ons nooit voor nee nie,” het Kaitlin weer gesê.
Amy se gunsteling kos is pizza, Lee-Ann hou van KFC en Kaitlin is ’n liefhebber van McDonald’s.
“Maar as al drie van ons saam is sal ons stem vir pizza. Ons probeer ook om gesond en fiks te bly.
“Groen is op die oomblik ons gunsteling kleur, so ons hou natuurlik vreeslik baie van ons nuwe skool,” het al drie beaam.
Have a story?
Contact the newsroom by emailing: Thelma Koorts (editor) brakpanherald@caxton.co.za or Stacy Slatter (news editor) stacys@caxton.co.za
Remember to visit the Brakpan Herald on the following social media platforms:
Follow us:



