Inwoners sit skouer aan die wiel
“Daar is niks mee verkeerd om vir jouself 'n paar rand te maak nie.”
Die Herald het verlede Saterdag drie inwoners teëgekom wat op vindingryke maniere poog om ‘n ekstra geldjie in die sak te kry.
Dit is geen geheim dat mense in die algemeen sukkel om kop bo water te hou nie maar vir sommige is opgee en arms gevou sit nie ‘n opsie nie.
Inwoners van Brenthurst is nou al gewoond aan die vriendelike gesig van Mike Slattery (61) wat elke naweek (naby die Brenthurst Spar) op sy kitaar speel en sing. Dié inwoner is ook baie talentvol en hy verkoop terselfdertyd skilderye wat hy self skilder.
Die Herald het verlede jaar, pas na die eerste vlak vyf inperking, berig oor Mike wat weens die Covid-19 pandemie nie meer kon werk nie.
LEE OOK: Consumers, businesses urged to beware of latest remote access scams
Hy het egter nog nooit opgehou om te skilder nie en wanneer hy naweke op die sypaadjie sing, stal hy terselfdertyd sy kunswerke uit.
“Ons moet maar ‘n plan maak om aan die lewe te bly,” het Mike gesê.
Nog ‘n bekende gesig, elke naweek voor die Spar, is die rooi karretjie van Jors (68) en Marie (78) Jordaan. Jors maak mooi blombakke uit sement waarin hy vetplantjies plant om te verkoop. Hy stal sy handewerk op die enjinkap en dak van sy voertuig uit.
“Ons staan maar elke naweek hier om te kyk of ons van die planthouers kan verkoop kry want dit is hoe ons, ons pensioen so bietjie kan aanvul,” het Jors gesê.
“Dit gaan maar moeilik daar buite maar dit help ook nie om net hande gevou te sit en hoop vir die beste nie,” het hy bygevoeg.
Hy verkoop ook oulike voëlvoerders, wat hy self maak. Maar dit is nie net volwassenes wat op ‘n naweek ‘n ekstra paar randjies probeer maak nie.
Aiden Lottering (12) is ‘n leerder aan die Laerskool Brakpan-Oos. Hy is ook gereeld in die omgewing te sien waar hy pakkies lekkergoed verkoop.
Aiden vertel trots dat hy baie graag eendag sy eie besigheid wil besit en dat hy solank oefen daarvoor.
“Daar’s niks fout daarmee om vir jouself ‘n paar rand te maak nie. Ek koop lekkergoed in groot maat aan en maak dan kleiner pakkies wat ek verkoop om ‘n wins te maak,” het hy vol selfvertroue vertel.





