In die Kollig
Juliétte Geyser (40) woon saam met haar man, Ruan, en hulle drie kinders, Eugene (19), Ané (16) en Rian (5), in Brenthurst. Juliétte is onlangs aangewys as die nuwe departementshoof van die Laerskool Môrewag.
Juliétte Geyser (40) woon saam met haar man, Ruan, en hulle drie kinders, Eugene (19), Ané (16) en Rian (5), in Brenthurst. Juliétte is onlangs aangewys as die nuwe departementshoof van die Laerskool Môrewag.
Wat behels jou pos?
Sjoe, wat behels dit nie? Hoofsaaklik is ek in beheer van die bestuur en kontrole van die kurrikulum in die grondslagfase (Gr R tot graad drie). Die welsyn van my personeel, hul klasmaats en ouers is dan uit die aard van die saak ook deel van my pligte.
Dit loop alles hand aan hand. ’n Gelukkige juffrou beteken ’n gelukkige kind. ’n Gelukkige ouer beteken ’n gelukkige kind. Dus, as almal gelukkig en geborge voel, presteer ons leerders ook optimaal.
Wat wil jy graag bereik met die nuwe pos? Wat is jou fokuspunte?
Ek wil net hê ons fase moet die stabiele, veilige, gelukkige omgewing bly wat dit is. Waar ons almal (personeel en leerders) soos familie is.
Ons verstaan mekaar en is almal lief vir mekaar. Met al Covid se uitdagings en veranderinge het ons werklik geleer dat niemand alleen kan werk nie.
Ons is ’n hegte span en ons hoofdoel is om ons leerders holisties te ontwikkel – akademie, sport en kultuur. Op hierdie stadium is dit nie altyd moontlik met Covid-protokol en beperkings nie, maar ons werk om dit.
Wat was jou rol voor jy die pos as departementshoof gekry het?
Ek het vir 11 maande waargeneem as grondslagfase departementshoof en het ’n wonderlike voorloper gehad. Voor dit was ek ’n graad een juffrou en het al wat ’n funksie en fondsinsameling gereël. Ek was ook betrokke by alle sporte se afrigting en skeidsregter.
Gee ’n kort beskrywing van jou loopbaan?
Ek het eintlik alles ’n bietjie agterstevoor om gedoen. Ek het eers ander werke en beroepe in die privaatsektor probeer. Van kantoorwerk tot in die skoonheidsbedryf. ’n Paar maande nadat my eerste kind gebore is, het ek by sy kleuterskool gaan aflos.
Dis net daar waar my loopbaan begin het, my passie was gevind. Ek het begin studeer vir onderwys, my lewe het bestaan uit kindertjies grootmaak, studeer en werk. Ek sal dit nooit verruil vir enigiets nie. In 2013 het ek ’n departementele pos by Laerskool Môrewag gekry en is steeds hier, baie gelukkig en tevrede.
Wat is een onderwerp wat jy voel alle skole moet op fokus in die toekoms?
Liefde, aanvaarding en omgee vir ander in hierdie onsekere tye is geweldig belangrik. En dan natuurlik dat harde werk altyd vrugte afwerp.
’n Goeie balans tussen akademie en sport is belangrik, hoekom dink jy speel beide ’n rol in ’n kind se lewe?
Albei is uiters belangrik vir ’n kind se ontwikkeling: kognitief, groot motories, fyn motories, emosioneel en sosiaal. Kultuur is natuurlik ook baie belangrik in die ontwikkeling van ’n kind se selfbeeld. Ons skool glo daaraan dat al drie elemente deel van ’n kind se ontwikkeling moet wees.
Watter beroep wou jy volg toe jy jonk was?
As jong meisie (laat tienerjare) sou ek enige iets wou wees behalwe ’n juffrou. Maar ons liewe Heer het ander planne met my gehad en ek is so dankbaar daarvoor, want dit is hier waar ek hoort.
Wat is drie goeie eienskappe van ’n onderwyser?
Kennis in hulle graad- en vakgebied. Begrip en empatie vir leerders se omstandighede. Entoesiasme en kreatiwiteit in jou klaskamer en lesaanbieding.
As jy vir ’n maand lank enige plek in die wêreld kon heengaan, waarheen sou jy gaan?
Ek is baie lief vir die laeveld.
Wat dink jy moet elke skool se snoepie verkoop?
Verskriklik baie “jellie-swieties”.
Vertel ons een interessante feit van jouself?
Ek is totaal en al versot op “diamond dotting”. As ek nie my halfuur voor slapenstyd bietjie “ge-diamond dot” het nie, slaap ek bittersleg.
ALSO READ:
Putting Brakpan on the map as a Mrs Universe Africa finalist
Updated Carnival City vaccination centre operating hours



