Nantus Joubert is die hoofseun van Hoërskool Die Anker vir 2022. Sy ouers is Pierre en Ninette en sy sussie is Krizé (13). Die gesin woon in Rynfield, Benoni.
Om die hoofseun van so groot skool te wees bring groot verantwoordelikhede. Is jy reg vir die uitdagings wat 2022 sal bring?
Ek is ’n bietjie skrikkerig, maar deur foute te maak leer mens. Ek glo dat die Here niks op jou pad plaas wat jy nie kan hanteer nie.
Waarna sien jy die meeste uit?
Om my skool te verteenwoordig en dien en om ’n voorbeeld te wees vir ander.
Wat behels jou pligte?
Om te lei deur ’n voorbeeld te wees en om die skool tot die beste van my vermoë te dien en te verteenwoordig.
Wat is jou sterkste leiereienskap?
Ek is lojaal, eerlik, nederig, hardwerkend, betroubaar, gedissiplineerd en toon respek teenoor my meerderes en my minderes. Christelike norme en waardes speel ook ’n groot rol in my leiereienskap.
Het jy ’n rolmodel en waarom dié persoon?
Ek het nie ’n definitiewe rolmodel nie, maar ek sien in elke mens iets goeds wat ek my ‘eie’ maak. Op Christelike gebied is Jesus my rolmodel, want by Hom leer ons om nederig, liefdevol en vergewensgesind te wees.
Wat is jou siening oor eksamens? Dink jy ’n toets of ’n praktiese ervaring baat jou meer?
Eksamens help leerders om hulle kennis te verbreed. Praktiese ervarings baat my meer, want daardeur kan ek foute maak en leer hoe om dié foute te herstel.
Watter vak is jou gunsteling en waarom?
Al my vakke is my gunstelinge, maar ek verkies IGO en lewenswetenskap, want IGO help my om te ontspan en lewenswetenskap is baie interessant.
Kan jy sonder jou selfoon klaarkom?
Tydens skool, ja. Want sonder ’n selfoon kan jy op klaswerk konsentreer en aktief besig wees in die klas. Na skool, nee. Want jou selfoon gee jou toegang tot inligting vir navorsingstukke en jy kan met jou medeleerders kommunikeer.
Spandeer die jongmense van vandag te veel tyd op hul fone?
Beslis. Jongmense het verleer om te kommunikeer en het geen menslike kommunikasievaardighede nie. Persoonlike interaksie tussen persone bestaan nie meer nie.
As jy vir ’n dag die hoof van jou skool kon wees, wat sou jy doen?
Ek sal ’n voedingskema vir die skool stig waar elke leerder wat nie geskikte voeding kry nie ’n gesonde bord kos per dag ontvang. Ek sal die skool bestuur volgens die beste van my vermoë.
Het jy al besluit wat jy na matriek wil doen?
Ek wil graag verder gaan studeer in ’n ingenieurswese rigting. Tydens my studies wil ek ook ’n tydjie inruim vir atletiek.
Wat doen jy graag in jou vrye tyd?
My sussie vertoorn en atletiek oefen.
Wat is jou gunsteling kos?
Seker die mees algemene gunsteling kos, hamburgers!



