Trudie Swanepoel is die hoof uitvoerende beampte van die Truth Heals organisasie. (Die organisasie is werksaam vanuit die Rata-kantoor in Brakpan.)
Sy woon in Germiston saam met haar man, Willem. Die egpaar het drie kinders, Jan-Adriaan (28), Dohan (26) en Joanique (19).
Wat is spesiaal aan Truth Heals?
Truth Heals is net dit wat die naam sê. Die feit dat Jesus die seer in mense se lewens kom gesond maak dat dit nie meer ’n inpak in hul lewens het nie. Dis ’n groot voorreg om deel van so ’n ervaring te wees.
Wat behels jou betrokkenheid daar?
Ek is betrokke van die begin af en op ’n weeklikse basis het ek sessies met gesinne. Ek doen ook baie opleiding. Ons het in September 2020 die organisasie gestig en is nog besig om alles in plek te kry.
Wat wil jy graag bereik in jou teenwoordigheid daar?
Ek wil ouers help om die beste ouers vir hulle kinders te wees soos wat God vir hulle beplan het. Ek wil ook kinders kry om so gesond as moontlik te lewe en sodoende huisgesinne help om mekaar te vind en verhoudings op te bou.
Ek wil hê mense moet weet hoe lief Jesus hulle het en dat ons niks sonder Hom kan doen nie.
Gee ’n kort beskrywing van jou loopbaan.
Ek doen kursusse saam met ouers en kinders, asook individuele sessies, met die doel om die hele gesin gesond te kry. Ek is ook betrokke by gebedsterapie waar ek aan die emosionele kant van die mens aandag gee en ek doen ook gebedsberading. Dit is alles deur en deur my passie.
Watter beroep wou jy volg toe jy jonk was?
Ek het nie regtig geweet wat ek wou word nie. Net geweet ek wil iets vir Jesus doen, maar ek het nie geweet wat nie. Vertel ons een interessante feit van jouself
Sjoe, dit is moeilik, maar as ek moet sê is dit dat ek baie deursettingsvermoë het en nie sommer afgeskrik word nie. Wanneer mense sê dat ek iets nie gaan regkry nie dan het ek ’n dryf in my wat sal aanhou en hulle verkeerd bewys.
Wat maak jou werk vir jou die moeite werd?
Die feit dat mense se lewens soveel verander en om die verligting te sien as hulle uit my kantoor stap.
Wat doen jy graag in jou vrye tyd Ek het nie regtig baie daarvan nie, maar as ek ’n tydjie kry, is ek lief daarvoor om saam my vriende of net by myself in ’n koffiewinkel te sit en koffie te drink.
Waar is jy gebore en waar het jy groot geword?
Ek is in Germiston gebore en het daar grootgeword.
Waar hou jy graag vakansie?
Ek lief die see en bosveld. Eintlik enige plek waar ek net die Here kan ervaar, loof en prys.



