Die 24-jarige Elzette van Zyl het onlangs by die Brakpan DBV aangesluit as inspekteur. Sy woon saam met haar gesin in Boksburg.
• Waar is jy gebore en waar het jy groot geword?
Ek is in Boksburg gebore maar het groot geword op ‘n plaas net buite Naboomspruit.
• Wat het jou laat besluit om as inspekteur by Brakpan DBV betrokke te raak?
Ek het oorspronklik by ‘n klein DBV in Heidelberg gewerk maar na ‘n jaar en agt maande het ek besluit om ‘n verandering te maak deur by ‘n groter DBV aan te sluit.
• Wat is jou visie vir Brakpan DBV?
Om die DBV op te gradeer deur die hokke te verbeter. My hoop is ook om meer hokke te laat bou sodat meer diere gehelp kan word. Dit is ook my visie om besighede betrokke te kry en die gemeenskap deel te maak van die DBV.
• Waar het jou liefde vir diere en hul welstand ontstaan?
My passie en liefde vir diere het ontwikkel te danke aan my ouers. Hulle het my die geleentheid gegee om die plaas met ‘n verskeidenheid diere te werk. Dis al wat ek ken en wil ken.
• Waar sien jy jouself oor 10 jaar?
Om terug te kyk en te sien dat daar ’n verskil gemaak is in die welstand van ons diere se lewens. Enigiemand kan ’n verskil maak, jy hoef nie in ’n posisie te wees om die mag te hê om ’n verskil te maak nie.
• Wat doen jy om positief te bly?
Ek is baie lief daarvoor om foto’s te neem van die natuur en diere. Al is dit op ‘n Sondag in my erf van die voëltjies op die gras of my honde wat speel.
• Watter beroep het jy beoefen voordat jy by die DBV aangesluit het?
Ek het na skool natuur-bestuur by Centurion Akademie aangepak. Eh het op die plaas gaan werk en toesig gehou oor die bestuur en diere.
• Om by ‘n DBV te werk sit nie in almal se broek nie, hoe doen jy dit?
Ek kan dit net doen met die ondersteuning van die regte mense. Ek maak staat op my werksverhoudinge met die span hier want dit is waar ek die meerderheid van my tyd spandeer.
Ek het ‘n groot hart en baie geduld as dit kom by diere in nood. Ek is elke dag bereid om daardie verantwoordelikheid te vat en die diere se belange bo my eie te stel.
• Waar hou jy graag vakansie?
Gewoonlik op die plaas omdat ek daar steeds ’n groot verantwoordelikheid teeoor die diere het. Anders by die see soos Mosselbaai of in die wildtuin, waar daar stilte is.
• Beskryf jouself in vyf woorde.
Betroubaar, liefdevol, dankbaar, passievol en plaasmeisie.



