Tweeling vaar goed by SA’s
Ruan en Luan neem deel van Suid-Afrikaanse Biathle Kampioenskappe.
Tweeling Ruan en Luan Strydom, wat graad agt leerders aan Hoërskool Die Anker is, het onlangs beide aan die Suid-Afrikaanse Biathle-Triathle Kampioenskappe deelgeneem.
Luan het ‘n 10de plek behaal, met sy broer Ruan kort op sy hakke in die 11de plek. Die byeenkoms het op 28 Mei by Somerset College in Somerset-Wes in Kaapstad plaasgevind.
Die broers, wat in Dal Fouche woon, het in April vir die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe gekwalifiseer toe hulle by die Gauteng Kampioenskappe ‘n vierde en vyfde plek verower het.
LEES OOK: Marno Muller is wakker!
Luan vertel dat dit vir hom lekker is om saam met sy broer aan die sport deel te neem. Die tweeling beskryf die individuele sport as ‘n kombinasie van twee van hul gunsteling sportsoorte.
Die item bestaan uit 800m hardloop, 100m swem gevolg deur ‘n verdere 800m hardloop.
“Dit was uitdagend en harde werk, maar ons besef dat ons elke jaar harder moet werk om daar uit te kom,” het Ruan gesê.
Beide Ruan en Luan het op die ouderdom van sewe met dié unieke sportsoort begin. Hulle oefen tans ses dae per week met hul pa, John Strydom (59), as hul afrigter.
“Ons is baie trots op hulle dat hulle hul talente ontwikkel en gebruik. Ek is baie positief oor hulle toekoms,” het John bygevoeg.
By hul skool neem Ruan en Luan ook aan atletiek, swem en hokkie deel.
“Ons sal baie graag weer aan SA’s wil deelneem. Dit is ‘n geleentheid om teen die beste in Suid-Afrika deel te neem en ons ontmoet nuwe mense en maak nuwe vriende,” het Ruan gesê.
Altesaam het hulle al ses keer vir die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe gekwalifiseer en twee keer vir die wêreldkampioenskappe. Vanjaar was slegs die eerste agt atlete gekies om aan die wêreldkampioenskappe deel te neem.





