Vrou oorwin seldsame hartsiekte
Barbara gaan binnekort vir haar vyfde ope hartoperasie.
Barbara Opperman (41), Port Elizabeth se ‘hart-baba’ van 1980 bevind haarself die afgelope paar jaar in Brakpan.
Barbara was as baba in al wat ‘n koerant, met haar rare aangebore afwyking van die hart.
Sy was op 15 Oktober 1980 gebore en reeds vyf dae na geboorte het die dokters opgemerk dat daar iets fout met haar hart is. Op die ouderdom van drie maande was Barbara met Tetralogie van Fallot gediagnoseer.
Sy is gebore met ‘n gat in die middel van die hartkamers en ‘n vernouing van die aar tussen die hart en longe.
Sonder chirurgie is die lewensverwagting van ‘n baba een jaar oud.
LEES OOK: Dwaalkoeël mis vrou rakelings in haar huis
Barbara was toe as baba na die Groote Schuur Hospitaal in Kaapstad gevlieg om hart chirurgie te ontvang. Vroeg in 1981 het prof Chris Barnard haar eerste opehartoperasie gelei.
Sy moes weer op ouderdomme vier en 10 dieselfde hartoperasie ondergaan. Op die jong ouderdom van 16 het Barbara ‘n hartaanval gekry en sy moes ‘n pasaangeër ontvang.
Haar laaste groot opehartoperasie was in 2007. Barbara en haar gesin woon al vir meer as twee jaar in Brakpan-sentraal. Alhoewel sy baie gesondheidsprobleme het, sê sy dat sy steeds ‘n normale lewe kan lei.
“Ek stap soms vêr, maak my eie huis skoon en voer self alledaagse take uit,” vertel sy.
Volgens Barbara is daar tog terugslae en kry sy gereeld floutes. Haar energievlakke is nie wat dit moet wees nie.
Sy word minstens een keer per maand opgeneem om haar hart te monitor.
Barbara het onlangs vir toetse gegaan en sal moontlik binnekort haar vyfde opehartoperasie moet ondergaan.
Alhoewel haar liggaam verskeie letsels het as gevolg van al die operasies, vertel sy dat dit haar uniek maak en dat sy ‘n wonderwerk is.
“As dit nie vir God was nie, dan was ek nie vandag hier nie.”




