Nuwe voorsitter aan die stuur vir sake
Die vergadering het projekte uiteengesit en 'n nuwe kommitee is vir die jaar gekies.
Solidariteit Helpende Hand se Oos-Rand streek het Woensdagaand hul algemene jaarvergadering gehou, waar ‘n nuwe voorsitter, ondervoorsitter en sekretaresse vir die Brakpan-tak verkies is.
Die nuwe Brakpan-tak voorsitter is Sonja de Bruin, die ondervoorsitter is Suzette van Rooyen en sekretaresse Alichia Pieterse.
Tydens die vergadering is ook ‘n uiteensetting van Helpende Hand se nasionale- en streekprojekte weergegee.
Die streek se grootste projek op die stadium is die skolekompetisie, waaraan 24 skole uit die Oos-Rand deelneem.
Die kompetisie behels dat leerders items skenk vir tien van Helpende Hand se Ons Winkels. Die prys vir die skool in die streek wat die meeste items skenk is R10 000, ‘n besoek aan die skool, en vir die klas wat die meeste items bygedra het lekkernye en koeldranke.
Helpende Hand het ook die bekende tassieprojek aan die begin van elke jaar, die HelpHetta projek regdeur die jaar wat sanitêre doekies aan minderbevoorregte kinders gee vir ‘n jaar by skole wat aansoek doen, rentevrye studielenings en vele ander projekte vir kinders en grootmense.
In die vorige finansiële jaar het Helpende Hand R9.7m se groente en vrugte onder behoeftiges versprei, R500 000 se Kersgeskenke aan bejaardes gegee, en 300 rokke bymekaar gemaak om vir behoeftige meisies ‘n onvergeetlike matriekafskeid te gee.
Die matriekafskeidprojek behels ook vyf haarkappers, drie grimeerkunstenaars en twee nael tegnikusse wat help om die dogters op te tof.
Die Helpende Hand bemagtig ‘n kind projek betaal vir kinders se koshuisverblyf, busgelde of skoolgelde waar ouers wat aansoek doen te kortkom.
“Ons kan dit nie doen sonder mense nie. Ons het die gemeenskap nodig,” het Mariolette Vorster, die voorsitter vir die Oo-Rand streek gesê.
Vir meer inligting, of om uit te vind hoe jy kan help, kontak vir Sonja de Bruin by 082 089 6218.



