Onderwyser lê na 40 jaar die tuig neer
Dié gesoute onderwyser sien uit na die nuwe hoofstuk in haar lewe.
Die adjunkhoof van die Laerskool Môrewag, Roleen Viljoen (63) gaan na 40 jaar in die onderwys die tuig neerlê.
Dié inwoner van Dalpark 1 se verbintenis met die skool loop ’n baie lang pad.
Sy was van Graad Een tot Graad Sewe ’n leerder aan die skool en het na haar studies in 1983 as jong onderwyseres, haar onderwysloopbaan by Morries begin.
Vandag kyk sy terug op 40 jaar se verbintenis aan die skool, wat haar baie na aan die hart lê. Roleen is in 2008 as departementshoof aangestel en in 2014 is sy bevorder tot adjunkhoof van die skool.
Dié aanstelling beskou sy as ’n hoogtepunt in haar loopbaan. Sy vertel sy sien baie uit na die nuwe hoofstuk in haar lewe.
“Dit is nou tyd vir bietjie ‘me time’ ek sien vreeslik baie daarna uit om meer tyd met my twee kleinkinders, Micah Viljoen (5) en PG Odendaal (10 maande) deur te bring.
“Tog, gaan ek beslis my kollegas mis.
“Baie van ons het vir jare saamgewerk en hegte vriendskapsbande gesmee. Die sportaktiwiteite was ook altyd vir my lekker en dit sal ook ‘n leemte laat,” het Roleen vertel.
Een ding wat sy vir seker nie sal mis nie, is volgens haar stoute kinders en die administratiewe werk. Sy het deur haar vele jare in die onderwys groot veranderinge beleef.
Sy het geglo om by te bly deur aan te pas en om gebruik te maak van nuwe tegnologie.
LEES OOK: Jabez Sorgsentrum sê dankie
“Ek het saam met ‘n baie toegewyde span mense gewerk wat elke dag daarna streef om Laerskool Môrewag ’n omgee skool te maak.”
“Ek wil graag almal bedank wat ’n aandeel in my lewe as onderwyser gehad het.
“Alle eer aan die Hemelse Vader wat my in goeie en swaarkry tye altyd gedra het.”
“Ek wens die hoof, Elna Venter en haar bestuurspan net die beste toe.
“In my hart sal ek altyd ’n Morrie wees maar ek sien uit na die nuwe hoofstuk my lewe.”