Serebraal gestremde leerders is Hanli se passie
Vir Hanli is die moeilikste deel van die werk die wete dat baie van haar leerders na skool geen toekoms het nie.
Hanli Zietsman werk al sedert 2007 by Felicitas skool se serebrale gestremdheid eenheid as onderwyseres.
In 2017 was sy as die hoof van die eenheid aangestel.
Vir haar is dié werk eerder ‘n passie en haar liefde vir die leerders in haar en haar personeel se sorg is tasbaar.
Met die oog daarop dat Maart Serebrale Gestremdheid Bewustheid maand is, het die Brakpan Herald met Hanli gepraat oor haar eenheid en die werklikhede van serebrale gestremdheid.
Hierdie gestremdheid is ‘n onderontwikkeling of verswakking in die area van die brein verantwoordelik is vir beweging, motoriese vaardighede en groei.
Die toestand word deur ‘n besering aan die brein, of soms sekere siektes veroorsaak. Meeste van die gevalle gebeur met geboorte, waar die baba ‘n breinbesering opdoen tydens of net na geboorte.
Sommige gevalle kan later in die lewe gebeur wanneer die persoon in ‘n ongeluk was of ‘n siekte opgedoen het soos breinvliesontsteking.
LEES OOK: Cemetery still in need of care
Die besering aan die brein veroorsaak dat die seine wat tussen die spiere en brein beweeg, nie soos normaal vloei nie.
Die ‘swak kommunikasie’ tussen die brein en die liggaam veroorsaak spier spasmas, verminderde motoriese vaardighede, verswakking van spiere weens onbruik, en in sommige gevalle selfs intellektuele gestremdheid.
Vir Hanli is haar leerders daagliks net ‘n plesier.
“Die beste deel van hul versorging is hulle dankbaarheid en entoesiasme,” vertel sy.
“Hulle gee alles en doen alles met oorgawe en mens sien min dat hulle nors of ondankbaar is.
“Jy kan ‘n slegte oggend hê, maar dan in die klas instap en jou leerders groet en dan is alles beter.”
“By ons skool werk jy ‘n paar jaar met jou groepie. Dit is nie soos ander skole waar jy hulle vir ‘n jaar sien en dan is hulle uit nie. Dus raak ‘n mens nogal geheg aan die kinders en lief vir hulle,” het sy verduidelik.
Die eenheid werk met die kinders om sovêr moontlik hul motoriese vaardighede te verbeter, sowel as om hul selfbeeld en selfstandigheid te bevorder.
Daar is twee afdelings in die eenheid. Een afdeling is vir die serebrale gestremde leerders met intellektuele gestremdheid ook, wat nie kan leer nie en basies net versorg word. Die ander afdeling is vir dié wat ‘n kurrikulum kan volg, wat dan die aangepaste KABV kurrikulum (CAPS) deurwerk.
Daar is in albei afdelings ‘n klas vir die jonger en ‘n klas vir die ouer leerders. Vir Hanli is die moeilikste deel van die werk die wete dat baie van haar leerders na skool geen toekoms het nie.
Daar is min tehuise vir hulle, hul sorg is baie duur, en daar is geen plek in die besigheidswêreld vir mense met serebrale gestremdheid nie.
Self al kry haar leerders plek in ‘n tehuis of sorgsentrum is daar geen waarborg dat hulle goed behandel sal word nie, en die idee dat hulle op ‘n plek kan opeindig waar hulle mishandel of afgeskeep word knaag aan Hanli.
As sy enigiets kon doen vir haar leerders, in ‘n wêreld waar geld of vermoë nie ‘n hindernis was nie, sou dit wees om ‘n goeie toekoms in die samelewing vir haar leerders uit te kerf.
“Dis net so wonderlik om met hulle te werk, hulle gee soveel terug van die moeite wat mens insit,” sê Hanli.
“Dan is daar ook die personeel van die afdeling wat fantasties is. Hulle loop die ekstra myl, is passievol en werk goed saam in ‘n span.
“Ons is ook baie dankbaar vir ons hoof wat by ons staan met ‘n oop hart. Ons werk lekker, want ons omstandighede is goed te danke aan ons hoof,” het sy mee afgesluit.