Carla woeker met haar talente
Dié talentvolle tiener is gemaklik op die verhoog en die kollig.
Sunair Park inwoner Carla Schönfeldt (16) is onlangs gekroon as die tweede prinses in die Miss Teen SA 2024 skoonheidskompetisie.
Carla is gedurende September aangewys as ’n nasionale finalis vir die kompetisie, waarvan die finale op 18 en 19 Oktober by die Excalibur Boutique Hotel in Rustenburg plaasgevind het.
Deelnemers het in vier afdelings meegeding – onderhoude, gemaklike drag, swemdrag en formele drag.
Carla is veral geprys vir die wyse waarop sy haar onderhoud hanteer het.
“Dit was vir my ’n reuse eer om aan die kompetisie te kon deelneem. Dit was beslis ’n onvergeetlike ervaring maar ook ’n leerskool,” het Carla vertel.

Dié Graad 11 leerder aan die Hoërskool Stoffberg is bekend met die kollig en aan haar prestasies op die verhoog is daar geen keer nie.
‘n Hoogtepunt was toe sy in 2022 by die Wêreldkampioenskappe vir Uitvoerende Kunste in Los Angeles aangewys is as die Grand Champion of the World in die junior acting afdeling.
Carla was vanjaar gedurende Julie weer in Los Angeles waar sy twee beurse van die New York Film Academy en New York Conservatory of Performing Arts ontvang het.
Dié talentvolle tiener is ook onlangs verkies tot onder hoofdogter van haar skool, ‘n taak waarna sy met groot opgewondenheid uitsien.




